Nuwe hospitaal sal talle spesialiste huisves
Terwyl bouwerk aan die eerste fases van die De Zwartland Werf-ontwikkeling op die noordelike grens van Malmesbury vinnig vorder, is die beplanning om die nuwe Crestcare private hospitaal in Julie aanstaande jaar te open.
As als volgens plan verloop, sal die handelaars in die nuwe streekwinkelsentrum (De Zwartland Markt) in November vanjaar begin sake doen.
Die Crestcare Malmesbury Private hospitaal word deur die Twin City-eiendomsgroep onder voorsitterskap van Arnold Pistorius ontwikkel.
Dié groep het eiendom en sakebelange in verskeie provinsies in Suid-Afrika, asook Oostenryk, Australië en boerderybedrywighede in Mosambiek.
Hulle besit onder meer verskeie winkelsentrums in die noordelike provinsies, asook die Waterway House in die V&A Waterfront, die De Wagenweg, De Oude Bank-, Andmar- en Good Hope-geboue op Stellenbosch en eiendom op Franschhoek.
dié courant het voorheen berig dat dit ‘n Samaritan-hospitaal sou wees. Kit Wostenholm verduidelik dat hul die maatskappy se naam van Samaritan na Crestcare verander het in lyn met die visie van hul groot beleggingsvennoot Summit Africa.
Die hospitaal sal deur Crestcare, met sy hoofkantoor in Bryanston, gehuur en bestuur word.
Crestcare onder uitvoerende bestuur van Reg Magennis is tans besig met ses hospitale, waaronder ook daghospitale. Naas die Crestcare Malmesbury Private hospitaal is die ander in Gauteng en Limpopo.
Op Malmesbury maak die hospitaal deel uit van die De Zwartland Werf-ontwikkeling van Devmark. Elke komponent van dié ontwikkeling sal apart bedryf word. Naas die winkelsentrum (±15 000m²) van die Dorpstraat-groep en die nuwe perseel van Malmesbury Toyota (±2 837m²), sluit van die ander fases onder meer ‘n deurryrestaurant (±450m²), ‘n woonstelkompleks en kantoorruimtes (±2 500m²) in. Daar word ook gekyk na ‘n moontlike aftree-kompleks naby die hospitaal.
Die nuwe hospitaal van ongeveer 7500m² se planne sluit 5 teaters in waarvan die eerste vier aanvanklik toegerus sal word.
Wostenholm het aan dié courant gesê daar sal aanvanklik 84 beddens wees met die moontlikheid om dit later te vermeerder.
Die hospitaal sal toegerus wees met ‘n intensiewe sorgeenheid asook neonatale intensiewe sorg.
Daar is ‘n lang lys van mediese spesialisdienste:
ortopedie, urologie, ONK (oor-, neus- en keel-spesialisdienste), ginekologie, mond- en kaakchirurgie, tandheelkunde en plastiese chirurgie.
Daar sal ook spesialisdienste in pediatrie en kraam wees sowel as interniste.
Wostenholm sê die hospitaal sal ook ‘n volledige radiologie-eenheid van SCP (Schnetler, Corbett & Partners Inc) en ‘n Pathcare-laboratorium sowel as ‘n apteek huisves.
Hy voeg by dat daar ook gekyk word na onkologie- en dialise-eenhede vir die toekoms.
Die Twin City groep het foto’s van die vordering met die hospitaal gedeel en gesê die beplanning is dat die hospitaal in Julie 2024 open.
*Die nuwe De Zwartland Werf-winkelsentrum (De Zwartland Markt) sal volgens aanduidings teen die einde van Oktober vanjaar voltooi wees.
Die padwerke aan die groot nuwe sirkel (Malmesbury se eerste) by die N7-aansluiting behoort teen die einde van Augustus voltooi te wees as als volgens plan verloop.