Malmesbury Klipkoppie kry straks sonplaas
Die Swartland Munisipaliteit het planne om ‘n sonplaas teen die Klipkoppie by Malmesbury te laat oprig.
De idee is om ‘n maksimum van 30ha van die 135 ha-eiendom oos van die Klipkoppie Natuurreservaat vir dié doel beskikbaar te stel.
Die owerheid voorsien nie dat só ‘n projek noodwendig ‘n invloed op die beurtkragfase van die dorp sal hê nie, maar eerder om elektrisiteit teen ‘n laer tarief te kan bekom.
Die langtermynverhuring (20 jaar) van die perseel sal die suksesvolle private tenderaar die geleentheid bied om ‘n solaraanleg van tussen 10 en 15MW op te rig en te bedryf.
Die perseel het ‘n noordelike helling wat gunstig is om sonpanele op te rig. Dit val net buite die bestaande stedelike randgebied van Malmesbury.
Die munisipaliteit het vroeër al besluit om die owerheid se eie hernubare energie-voetspoor uit te brei. Hiervolgens het die munisipaliteit reeds ‘n driejaarooreenkoms met Darling Green Utility onderteken om 1 MW sonkrag aan die Munisipaliteit te verskaf vanaf Januarie 2024. Die nuwe aanleg is aan die oostekant van Darling geleë en sal volgens beplanning met voltooiing 6MW kan lewer.
Oor die Klipkoppieperseel by Malmesbury is die plan om tenders aan te vra van instansies wat die grond by die munisipaliteit wil huur en ‘n sonkragaanleg te ontwikkel. Die munisipaliteit beplan nie om die aanleg te besit nie, maar slegs die sowat 30ha te verhuur en die elektrisiteit per ooreenkoms aan te koop.
Daar moet nog bepaal word watter gedeelte van die perseel die mees geskikte sal wees vir só ‘n aanleg.
Die stadsraad sal vandeesweek op hul raadsvergadering die beginselgoedkeuring van dié plan bespreek.
Die grond is tans nog as Landbousone 1 gesoneer en sal die vereiste hersoning/grondgebruiksregte en omgewingsmagtigings ingevolge die toepaslike wetgewing verkry moet word.
Fotovoltaïese energie is sonenergie wat deur middel van fotovoltaïese selle of sonpanele in elektrisiteit omgeskakel word.
dié courant het 10 jaar gelede berig oor die eerste sonplaas in die Swartland wat deur die ingenieur Anthony Corin sowat 15 kilometer noordwes van Malmesbury opgerig is. Die eerste fase wat sowat 5MW lewer is destyds aan die nasionale Eskom-netwerk gekoppel en lewer genoeg elektrisiteit vir ‘n geskatte 1500 huishoudings.
Corin het destyds vertel dat hy nie voorsien dat daar nog soorgelyke aanlegte in die omgewing en meer suid gebou sou word nie, omdat dit nie finansieel sou sin maak nie. Veral omdat die lewering van elektrisiteit aan die nasionale netwerk ‘n kompeterende besigheid is.
Met Eskom se gebrek aan leweringsvermoë het die prentjie sodanig verander dat daar op ‘n meer plaaslike vlak gekyk word na die opsies om elektrisiteit te voorsien en dit is dan minder kompeterend en meer lewensvatbaar.
dié courant het met Corin gesels oor sonplase. Hy verduidelik dat die konvensionele sonplase tot dusver meesal die elektrisiteit wat opgewek word direk in die stelsel gestoot het.
Hy is steeds betrokke by die ontwerp van aanlegte en sê met faktore soos ‘n onstabiele netwerk en beurtkrag word stoorkapasiteit (batterystelsels) deesdae by 9 uit die 10 aanlegte se ontwerp ingesluit. Dit maak die aanlegte wel baie duurder omdat stoorkapsiteit duur is.
Gepols oor die impak van seisoene op lewering van elektrisiteit, sê Corin weens die afstand van die ewenaar kan jy in die Swartland werk op ongeveer die helfte van die uitset in die winter teenoor dié in die somer. Dit is dikwels die gebruik om die somme te doen op die gemiddelde of selfs slegs die winterlewering.
Oor stoorkapasiteit sê Corin daar is deesdae verskillende opsies van batterytegnologie beskikbaar. Die groot pomptegnologie wat vir grootmaat gebruik kan word soos by die Palmiet-aanleg om as stoorplek te dien, is nie noodwendig ekonomies vatbaar vir kleiner aanlegte nie, voeg hy by.
Hy sê die Slimsun-aanleg is aan die nasionale netwerk gekoppel, maar hulle kyk steeds na opsies om op dieselfde plaas nog solarkapasiteit op te rig.
*Die Swartland Munisipaliteit het vroeër ook reeds goedkeuring verleen aan Agri Industria om as deel van die voorgenome groot eiendomsontwikkeling tussen Malmesbury en Abbotsdale ‘n sonplaasanleg van 23,7 ha op Erf 353 wes van Abbotsdale op te rig.