Jong Riebeek-Wessers geniet speelpark van oorsee
In plaas van in totale onbruik, verwaarloos en op ‘n stortingsterrein in Australië te beland, kan die kinders van die Goedgedacht POP-sentrum op Riebeek-Wes nou heerlik speel, klim en klouter op ‘n herwinde speelpark wat uit dié land ingevoer is.

Met die verskuiwing van die demografiese profiel van sommige woonbuurte in Australië, verduidelik dr. Deon Snyman van Goedgedacht, het die inwoners al ouer geraak en speelparke van jare gelede het in onbruik verval.

Sommige van die speelpark is jare gelede deur van die Rotariër-klubs in Australië opgerig en die Rotariërs daar het ‘n paar jaar gelede toe ‘n projek van stapel gestuur om dié speelparke eerder elders heen te verskeep sodat kinders in ontwikkelende lande daarvan nut kan hê.

Die projek het ‘n naam gekry – Rotary Overseas Recycled Playgrounds-inisiatief – en is daar nou al tientalle speelparke sorgvuldig per onderdeel genommer, uitmekaar gehaal en elders weer opgerig.

Op Riebeek-Wes het die plaaslike tak van die Rotariërs die installering gekoördineer onder die leiding van Rodney Tredrea en David Riley en vandag was die amptelike oorhandiging.

Snyman, ook lid van die Riebeekvallei Rotariërklub, het almal betrokke – ook lede uit die gemeenskap – bedank vir hul hulp met die projek.
Betrokkenes het ook vertel van die opgewondenheid wat tydens die oprigtingsproses onder die kinders posgevat het in afwagting om die park te gebruik.