‘Dink soos een’, ‘los vir môre’, ‘lei saam’
Ons wil nóú alles vat en kyk wat ons nóú kan uithaal, maar kan ons ‘n bietjie anders dink en vra wat los ons vir môre en hulle wat ná ons kom.
Ons verstaan net kompetisie. Kyk maar na skole en kerke en ander organisasies. Dit gaan bykans net daaroor dat jy moet beter wees as ‘n ander.
Maar die planeet – die oop sisteem – werk op ander beginsels. Daar is ‘n bietjie kompetisie, maar samewerking en simbiose is baie belangriker.
Dit was een van komponente van motiveringspreker, spanbou- en leierskapopleidingskenner Callie Roos se boodskap vandeesweek by die Delsma-geleentheidsentrum buite Hermon.
Die relevansie van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het daar onder loep gekom op die jaarvergadering van die Wes-Kaapstreek van dié organisasie.
Roos sê die planeet is ‘n komplekse oop sisteem met variasie en die mens kompliseer dit deur die variasie te probeer uitskakel eerder as dit te bestuur.
“As die land af gaan, hoe gaan ons dit omdraai – van onder af of van bo af?”
Dit vra dat ons hoë vlakke van aanpasbaarheid moet hê. Dit het alles te doen met ‘n manier van dink.
Roos het ook gesê ons is in ‘n era van groter verstaan van netwerke en samewerking eerder as die ou beheermodelle. Daar is ‘n groter verstaan dat ons op dié manier vinniger by resultate sal uitkom.
Daar is ‘n plafon in die wêreld van die een wat alleen alles self wil doen. Deel en netwerke maak nuwe wêrelde en moontlikhede oop, sê hy.
Onder die ander punte wat Roos gemaak het was:
– Die wêreld het mense nodig wat eg is (“genuine”). Kom op die spoor van dit wat jy bedoel was om te wees.
-Dit is belangrik om soos een te dink oor die einddoel – ‘n gedeelde verstaan te hê en dieselfde goed te sien. Een taal te praat.
-Dit is belangrik om absoluut deursigtig te wees. Meer te kommunikeer. Oor te kommunikeer. ‘n Groter openheid te hê.
-Dit is belangrik om mense te bemagtig om die regte goed goed te kan doen. Dan is daar vertroue in die uitvoering in dit wat elke rolspeler moet doen. Rus mense toe met die heel beste beskikbare toerusting en hulpmiddele. Gee hulle ook die beste adminstratiewe rugsteun wat hulle nodig het.
“Daar is te veel mense in hierdie land wat nie goed is in wat hulle doen nie. Dit het niks met wit/swart te make nie. Hulle is net nie goed nie.”
Weet dat jy goed is en raak beter in dit wat jy doen. Die meeste goed wat jy doen het jy nie op skool geleer nie. Dit was die verkeerde vakke. Probleme oplos, konflik hanteer en onderhandel. Dit is die goed wat jy elke dag goed moet kan doen.
-“Maak ‘n kopskuif. Al voel dit soms of die klein dingetjies wat jy wil doen, nie ‘n impak op die geheel gaan hê nie, is dit nie so nie. Hou aan om daardie regte goed te doen. Dit sal wel ‘n rimpeleffek hê.”
Hy sê ons weet met jare se kennis eintlik intuïtief wat om in ‘n situasie te doen – wat die waarskynlike spoor is om te volg, maar ons wil dit soms rasionaliseer en dan ‘n ander keuse maak.
-Een van die dinge wat ons kniehalter, is die onvermoë om in die nou te leef.
Jy moet bereid wees om te waag. Jy kan nie vasgedraai wees in sekerheid nie. Die spanning in die interspel tussen weet en nie weet nie, is deel van menswees.
As jy by ‘n punt kom waar jy onseker is. Wees braaf genoeg om dit te erken en dan stil te gaan staan en met ‘n leeringesteldheid bereid te wees om ander (se) kennis in te span.
Roos het ook gepraat oor die belangrikheid van adminstatiewe stelsels, maar dat die aanwesigheid daarvan nie mag verhoed dat jy by die eintlike regte besigheid/doel uitkom nie.
*Vroeër het ds. George Prinsloo die dag se sessies geopen. Hy het gepraat oor leierskap en die veranderende samelewing waarin ons leef. Hê passie oor wie jy is, waar jy is en waarmee jy besig is.
Vir leierskap is visie, innovering, deurvoering, organisering en samewerking belangrik. Dat deur deurlopend net met eendersdenkendes om te gaan, jy nie op ‘n plek van groei is nie. “Nooi ander om te kom help en wees bereid om by hulle te leer.”