Hoe gemaak met… my wintertuin
Ek vertrou dat al die Swartlandse tuine nou lekker nat is!
Dit is nou D-Dag vir die plant van jou laaste winterbolle soos ranonkels, anemone, ensovoorts.
Jy kan nog affodille en tulpe plant en dan het die lelie (Liliums) nou ook op die rakke verskyn en moet hulle spoedig in die grond kom.
Vir die saai van blomsaadjies raak die tyd ook nou min, so kry die Namakwaland Daisies en die Bokbaaivygies in die grond!
Ook nóu die tyd vir die laaste pronkertjiesade (sweet peas). Daar is nog baie ander saailinge wat jy deur die winter kan plant vir ‘n lentetuin vol kleur, maar hoe later jy hulle plant, hoe korter is die tyd dat jy hulle kan geniet.
Wintertyd is ook ‘n goeie tyd om nuwe struike en bome te plant, want dan is die kans vir ‘oorplantstres’ baie skraler. Kom ons gesels oor die aanplant van bome: Eerstens moet jy besluit op die plek waar die boom moet staan.

Wil jy permanente skaduwee hê of soek jy in die winter ‘n bietjie sonskyn op bv. ‘n venster of skuifdeur?
Indien dit ‘n immergroen boom moet wees, kan jy kyk na ‘n klomp inheemse opsies, bv Rooiessenhout (Trichelia), Kaapse-essenhout (Ekebergia) Bosvlier (Nuxia), Olienhout (Olea), Geelhoutbome (Podocarpus), Witkaree (Rhus/Sp), Doringbome (Acasia Sp), Wildeperske (Kiggelaria).
Indien jy ‘n bladwisselende boom soek, is daar die volgende inheemse opsies: Wit Stinkhout (Celtis), Vaderlandswilg (Combretum), asook sekere Doringboomspesies wat half bladwisselend is.
Daar is ook nog baie ander mooi bome wat nie inheems is nie.
Wanneer jy ‘n boom wil plant, doen baie moeite met die voorbereiding van die plantgat, want dit sal bepaal hoe suksesvol jou boom gaan groei.
‘n Gat van 1mx1mx1m diep is ons aanbeveling. Hou die bo-grond en die onderste grond op twee aparte hopies en meng by elke hoop ‘n groot volume kompos en superfosfaat en beenmeel by (of langfos as jy bang is die honde grawe jou boom weer uit).

Jy kan nooit te veel kompos insit nie – hoe slegter die grond lyk, hoe meer kompos kan jy insit!
Vyf sakkies of meer per gat is ook goed. Superfosfaat: 1 tot 2 kg per gat en beenmeel of langfos: ook 1 tot 2 kg.
Meng die produkte deeglik met die grond en gooi dit terug in die gat soos dit uitgekom het. Onthou om die boom se houer waarin jy dit gekoop het, versigtig te verwyder sonder om die wortels te beskadig of te versteur.
Plant die boom net so diep soos wat dit in die houer gestaan het, trap die grond stewig vas rondom die nuwe boom en stut die boom deeglik.
Gooi dit nou deeglik nat. Ons kwekery het volledige, gratis plant-instruksies vir bome vir ons kliënte.
Wenk: Die plantgat moet verkieslik vierkantig wees en nie rond nie.
Kom kry jou boom en lekker plant!
Tuingroete
George Retief
(Tuinbourubriek uit dié courant se argief)
