‘Eskom, entstof, diefstal struikelblokke vir rooivleis’
Die relevansie van die Rooivleisprodusente-organisasie was die tema op dié liggaam se Wes-Kaapse jaarvergadering op Delsma buite Hermon.
Verskeie uitdagings wat die bedryf en produsente in die gesig staar, het onder loep gekom en die vergadering het gehoor van die vordering wat op verskeie gebiede gemaak word.
Onder die struikelblokke wat bespreek is, tel Eskom se onvermoë om elektrisiteit te lewer, veesiektes en die tekort aan entstowwe en veediefstal.
Die nuwe provinsiale bestuur is ook op die vergadering aangewys. Die provinsie is in streke verdeel met ‘n verteenwoordiger vir elke streek. Die Boland is in twee streke verdeel. Boland 1 bestaan uit Piketberg, Porterville, Moorreesburg, Hopefield en Vredenburg. Die verteenwoordiger vir dié streek is Lochner Eksteen. Boland 2 bestaan uit Malmesbury, Darling, Durbanville, Paarl, Stellenbosch, Franschhoek en Wellington. Die verteenwoordiger vir dié streek is John Dürr.
In sy voorsittersverslag het Nico Uys melding gemaak van die uitdaging wat abattoirs (wat die tussen 18 000 en 20 000 skape per week in die streek slag) het om met die Eskom-situasie die karkasse koud te maak en die vleis koud te hou.
Hy het ook gesê veediefstal is ‘n groot bekommernis.
In die lig hiervan het die bestuur besluit om R100 000 te skenk om nagsigtoerusting aan te skaf vir al ses die polisie se veediefstaleenhede in die provinsie. Dié aankoop word moontlik gemaak deur ‘n verdere R75 000 wat deur die provinsiale departement van landbou bewillig is. Die gesofistikeerde toerusting maak dit moontlik om verdagte persone in die nag oor ‘n ver afstand raak te sien.
Volgens statistiek was daar in die eerste kwartaal van 2023 133 aangemelde veediefstalsake in die provinsie. In die jongste syfers word die waarde van beeste op R15 000 stuk geskat en dié van skape en bokke R3 000 en R4 000 onderskeidelik.
Die ondervoorsitter, Jaco van den Berg, het melding gemaak van die groot uitdaging wat die tekort aan entstofvervaardiging by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vir die rooivleisbedryf inhou.
Daar hang steeds ‘n bek-en-klouseerwolk oor die bedryf al is daar nie onlangs nuwe gevalle aangemeld nie. Daar is nog aktiewe gevalle.
Van den Berg het gesê die Wes-Kaap het nog nie bek-en-klouseergevalle gehad sedert die laaste uitbraak nie en het die produsente in die provinsie bedank vir hul erns met biosekuriteit.
Die entstoftekort, sê Van den Berg, het ‘n groot impak en die gebrek aan vervaardiging by OBP het die bedryf onder geweldige druk geplaas. Hy het bygevoeg dat daar wel groot vordering gemaak is met ander rolspelers en vervaardigers. In die voorsittersverslag is ook melding gemaak van die druk wat op Onderstepoort geplaas word om entstof, veral teen bloutong, te produseer.