Agri/BusinessFEATURED

‘SA eet rooivleis’ – hoof van diensteliggaam

Die rooivleisbedryf is tans op ‘n “ongelooflike goeie plek”.
Só het Dewald Olivier van Rooivleisbedryfdienste (RMIS) by die jaarvergadering van die Rooivleisprodusente-organisasie (Wes-Kaap) op Delsma buite Hermon gesê.

Dewald Olivier

Hy het gepraat oor Rooivleisstrategie 2030 en dat daar met “eenvoudige klein skuiwe” R12 biljoen by die bedryf se netto waarde gevoeg kan word.
Luidens Visie 2030 word die rooivleisbedryf gesien as die slapende reus in die Suid-Afrikaanse landbousektor en uitvoere in die beesvleisbedryf kan van die huidige sowat 4% tot 20% van plaaslike produksie groei.

Ook in die kleinveebedryf is daar groot potensiaal en dit kan in die toekoms soveel as 6% van die mark opneem.
Olivier het dieregesondheid en publieke gesondheid, inklusiewe groei, die uitbrei van marktoegang en volhoubaarheid en mededingendheid as kernfaktore vir die bedryf bespreek.

Wanneer daar inklusiewe groei plaasvind, sê Olivier, moet almal daarin deel. Die klein sowel as die groot produsente.
Oor mededingendheid het Olivier gesê die kompetisie is nie teen vark en hoender nie, maar eerder teen diegene wat “gras bymekaar maak, dit geur soos vleis en dan verkoop”.
Alles wat die bedryf produseer, sê Olivier, word opgebruik. “Suid-Afrika eet rooivleis.”
“Die probleem is, ons kry nie genoeg vir ons produk nie. Ons het dringend uitvoermarkte nodig.” Hy het ook gesê dit is belangrik dat korrekte feite oor die plaaslike rooivleisbedryf die wêreld ingestuur word – onder andere oor die vlakke van metaangasse wat deur die bedryf geskep word en dat dit nie so hoog is soos wat voorgehou word nie.

– *Nog een van die sprekers op die vergadering, Daneel Rossouw van Nedbank se landbou-afdeling, het verskeie faktore vir volhoubaarheid in die bedryf uitgelig.
Hy het die belangrikheid van biosekuriteit en verbruikersvoorkeure bespreek. Naspeurbaarheid van ‘n produk, het hy gesê, gaan in die toekoms al belangriker raak as jy kyk wat die verbruiker wil hê.
Rossouw het bygevoeg dat dieregesondheid, genetika en rekordhouding van kardinale belang is in die bedryf.

Daneel Rossouw

Hy het die verantwoodelikhede van die produsent in drie kategorieë geplaas – finansiële verantwoordelikheid, bewaringsverantwoordelikheid en sosiale verantwoordelikheid. Laasgenoemde gaan al groter raak, meen Rossouw.
Hy het ook die belangrikheid van die Agoa-ooreenkoms (Die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika) beklemtoon en die feit dat die sake-omgewing baie vinnig kan verander “soos wanneer ‘n politikus iets sê”.

Rossouw het gepraat oor rooivleisuitvoere en dat die beesvleisuitvoere slegs ‘n klein deel van die land se totale landbou-uitvoere verteenwoordig. Tóg is lewendehawe die grootste komponent van die Suid-Afrikaanse landbousektor.

Byron Jacobs

– *Op sy beurt het Byron Jacobs van die departement van landbou hul erns oor landelike veiligheid uitgespreek. ‘n “Aanval op ‘n landbouwerker of produsent is ‘n aanval op die ekonomie,” het hy gesê. Hierdie mense is “die ruggraat van die ekonomie”. Hy het die RPO bedank vir die rol wat hulle in dié verband speel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!