CommunityNews

Nuwe wiele vir WD rampbestuursentrum

(Persverklaring) – Die Hoof van Weskus Distriksmunisipaliteit (WD) se rampbestuursentrum, Franquin Petersen, het onlangs ’n splinternuwe voertuig vir die sentrum op Moorreesburg in ontvangs geneem. Die maakdeel uit van ‘n vennootskap tussen die Weskus Distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse regering, departement van Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid wat poog om gemeenskapsveiligheid vir die streek te bevorder.

Die voertuig sal gebruik word vir aksies om ’n risikovermydingskultuur te kweek en bydra tot rampbestuur in die area. Die vennootskap tussen die munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering het ook gelei tot nuwe radio-infrastruktuur vir munisipaliteite (Bergrivier, Swartland, Saldanhabaai, Cederberg en Matzikama).
Verder het die rampbestuursentrum ook ’n geïntegreerde, webgebaseerde program verkry wat elke plaaslike munisipaliteit in staat sal stel om sy veiligheidsdienste aan gemeenskappe te verbeter.

Nuwe wiele vir WD rampbestuursentrum
Personeel van die WD se rampbestuursentrum saam met direkteur Wilhelm Markus, raadsheer Boffie Strydom (uitvoerende burgemeester), die veiligheidskoördineerder van die streek, Jakkie Van Litsenborgh, en heelregs Franquin Petersen (hoof van die sentrum).

Petersen het die Wes-Kaapse regering bedank vir hul bydra. “ Elke hulpbron help ons om veiliger gemeenskappe te skep en ons vra ons gemeenskappe om inisiatiewe te ondersteun, maar verall om uit te reik en saam te werk om ons Weskus veilig te hou,” het hy gesê.
Volgens die uitvoerende burgemeester van die WD, raadsheer Boffie Strydom, is dié owerheid se plan vir gemeenskaps- en landelike veiligheid daarop gefokus om veiliger en meer volhoubare gemeenskappe te vestig.

“Ons besef dat veiliger gemeenskappe krities belangrik is vir ekonomiese groei en sosiale welstand en daarom werk ons saam met verskeie rolspelers om ons doelwitte te bereik. Ons kan dit beslis nie alleen doen nie en vennootskappe is vir ons baie belangrik,” het Strydom gesê. – (Persverklaring)

Leave a Reply

error: Content is protected !!