Is jy ‘n inkommer?
Johan Viljoen
Ons is nie almal so nie….
Of is ons?
Ons (of baie van ons) soek húlle op wat soos ons dink, of amper soos ons dink en hulle wat soos ons lyk (of amper soos ons lyk). En vergeet vir hierdie ronde van geslag en “gender”.
Saamkuier oor gedeelde ervaringswêrelde en gedeelde belangstellings en gedeelde eras en gedeelde herkomste, kom so half natuurlik.
En so ook saamwerk vir ‘n groter bedinging of aanvullende rolle om meer effektief te wees. Dit is tog immers ‘n eeue-oue praktyk oor verskillende kulture en gemeenskappe heen.
So woon ons op ‘n plek of ons verhuis na ‘n plek waarvan ons hou, of waar ons grootgeword het of waar ons ‘n besigheidsgeleentheid sien.
En soos dit is, lok ons dikwels ook ander – familie of eendersdenkendes of ander met wie ons saam kan besigheid doen of mee kan saamwerk.
As saamwerk goed begin werk, kom die risiko’s. Dan werk dit moontlik later te goed en dan… dan begin mag intree en dan… vergrype… En daarvan hoef mens niemand iets te vertel nie. Nie hier nie, en ook nie elders nie. Mag is ‘n siek ding.
So staan jarelange inwoners oor geslagte meesal van nature saam as boorlinge en waak oor hul gebied. En dit is baie natuurlik so.
Dan kan nuwe inwoners dikwels inkommer-etikette kry of ewe dikwels inkommer-etikette verwag, al is die die gemeenskap ontvanklik.
Die punt is elkeen – ELKE LIEWE EEN – is ‘n inkommer. Ja, die tyd van inkom verskil net, maar hierdie grond was nie altyd joune nie. Hierdie dorp was nie altyd joune nie. Een van jou voorsate het hier ingekom. Van waar ook al.
So inkommers is eintlik ‘n onnodige konsep, want almal is altyd inkommers – oral.
En laatkommers? Hoe laat is laat? Dit is een en dieselfde ding.
Mense vestig hulle, omdat die plek aanloklik lyk. En dan – dan wil hulle dikwels die plek kom verander. So hoekom het jy dan in die eerste plek gekom?
Maar dit is die aard van die mens. Ons verander ons omgewing soos dit ons pas. Dan verander die plek – net soos jare gelede ook maar. En dit is ‘n gegewe.
Om saam met ander te werk en te kuier, kan inherent nie problematies wees nie, maar ongelukkig laat geskrewe en ongeskrewe saamwerkooreenkomste dikwels nie ruimte om ander ook ‘n plekkie in die son te gun nie.
Hier is die probleem. When in Rome, do like the Romans do. Wie is die Romans? Gister of eergister se laatkommers?
Die ingeburgerde neusoptrekkers (eintlik uitsluiters) wat die omgewing nou lekker vir hulself ingerig het, moet maar pasop. Want as daar genoeg nuwe inkommers kom, word Rome dalk môre die nuwe Parys of Londen en dan moet die Romeine maar soos die Paysenaars of Londenaars begin maak.