LatestNews

Ondersteunsentrum vir begaafde kinders in pyplyn

image_pdfimage_print

Daar is “regoor die wêreld gebreke en baie probleme in gewone skoolstelsels vir begaafde kinders”.
Só sê Roya Klingner, stigter en hoof van onder meer die internasionale sentrum vir begaafde en talentvolle kinders in München.

Ons het haar gepols na aanleiding van ‘n ondersteuningsentrum vir begaafde kinders wat nou in die Swartland beplan word.
Die jong Swartlander Hjalmar Rall het pas 21 geword en die eerste jaar van sy doktoraal in kwantumfisika in Duitsland is agter die rug.
Hjalmar het sy fisika-graadstudies op 14 by die Universiteit van Pretoria aangepak en het sedertdien sy B.Sc.-, honneurs- en meestersgrade met lof voltooi. Hy is tans in Freising verbonde aan die Duitse TUM-universiteit se Skool vir Lewenswetenskappe.
Terwyl hy besig is met sy doktorsgraad, beoog sy ouers nou om ‘n nie-winsgewende sentrum vir die ondersteuning van intellektueel begaafde kinders in die Swartland op die been te bring.

Sy pa, Heinrich, van Riebeek-Kasteel sê ná jare se blootstelling en werk met begaafde kinders, besef hy meer en meer hoe min ondersteuning daar is en dat dié kinders “dikwels sukkel omdat die stelsels hulle faal”.
Hy sê die sentrum sal die Swartland, omliggende plattelandse dorpe sowel as Kaapstad kan bedien. “Dit sal ook uitreik na onderwysers sodat hulle hierdie kinders kan identifiseer en kan help om die kinders te laat asseseer vir begaafdheid sodat hulle gehelp kan word.”
Riana de Villiers, ‘n sielkundige van Pretoria wat reeds vir jare kinders toets vir intellektuele begaafdheid, beaam die groot behoefte aan ‘n sentrum vir begaafde kinders.

Hjalmar Rall by ‘n plakaat van een van die studies waarby hy tans betrokke is.

Sy sê hulle kan kinders reeds van die ouderdom van 3 jaar en 0 maande met individuele interaktiewe evaluasiesessies toets.
De Villiers, wat ook al sedert die 90’s mense en kinders vir Mensa evalueer, verduidelik dat kinders met ‘n IK van 130 en meer as intellektueel begaafd beskou word en van 145 af hoogs begaafd.
Mensa is ‘n wêreldwye vereniging vir mense wat intellektueel in die top 2% van die samelewing toets. Daar is ook ‘n tak in Suid-Afrika.

Klingner wat reeds verskeie boeke en artikels oor begaafde kinders die lig laat sien het, meen ouers moet soos ‘n mentor vir begaafde kinders kan wees en hulle inspireer in plaas daarvan om hulle te leer. “Hulle moet kinders se belangstelling en passie raaksien en ondersteun. Daar is baie maniere om potensiaal en talente te ontwikkel. Dit moet pret wees en nie prestasiegeoriënteerd nie.”
De Villiers sê dit is belangrik om ouers te help in die identifisering van begaafde kinders. “Om ‘n begaafde kind groot te maak, kan baie uitdagend wees en daarom is ouerleiding belangrik.
“Wat ons doen is om die kinders te belyn om hul potensiaal te bereik – wat dit ookal is.”

Riana de Villiers

Rall sê die idee is om hierdie kinders en ook hul ouers, wat dikwels nie die nodige ondersteuning kry nie, te help met interaksie en blootstelling aan hulpbronne.
In die eerste plek moet hulle getoets word en die idee is om die toetse so bekostigbaar moontlik binne meer mense se bereik te plaas.
Is jou kind hoogs wakker, baie nuuskierig, perfeksionisties, nogal sensitief of ‘n vinnige leerder?
Redeneer jou kind goed, het interessante idees of raak maklik verveeld by die skool?
Het jou kind ‘n goeie sin vir humor, empaties, ‘n sterk mening oor reg en verkeerd, die morele/billike?
Baie kreatief?
Jou kind kan begaafd wees.

Roya Klingner

De Villiers sê dié kinders se sielkundige en emosionele samestelling lyk ‘n bietjie anders as ander kinders s’n.
“Sommige van hulle is ook dubbel-uitsonderlik omdat hulle ook ‘n leergeremdheid of leeruitdaging het.
“Omdat hulle so slim is, kan hulle nogal kompenseer vir die uitdagings en val hulle dan baie keer deur die krake.
“Daar is ‘n geweldige behoefte vir sentrums vir hierdie kinders, maar ek weet nie of dit oral logisties haalbaar is nie.”
“Afhangend van hul temperament, is daar van die kinders wat goed aanpas op skool. Al bied dit nie baie uitdagings nie, vul hulle dit aan met buite-kurrikulêre aktiwiteite en sosiale interaksie. Almal is egter nie ewe goed sosiaal aangepas nie.
“Van die kinders se eienskappe soos sensitiwiteit, intensiteit en interne strewe na perfeksie, maak dit vir hulle baie moeilik en van hulle kry dan depressie en angs. Hulle is geweldig hard op hulself en ervaar mislukking eerder as om net na hul heel beste poging en uitnemendheid te streef.”
“Baie kinders is slim, maar hulle presteer nie.”

Een van die kenners op die gebied van begaafde kinders in Suid-Afrika, dr. Shirley Kokot, meen begaafdheid word dikwels verkeerd gediagnoseer of oor die hoof gesien omdat die eienskappe soortgelyk is aan dié van die gelyste kriteria vir ADHD (aandagafleibaarheid en hiperkatiwiteit-sindroom).
De Villiers sê statistiek deur dr. Linda Silverman se sentrum vir begaafdes in die VSA het getoon dat die sibbe van begaafde kinders meesal ook binne ‘n radius van 5 tot 13 skaalpunte van mekaar toets. Sy sê sy het ook presies dieselfde ondervind.
In Suid-Afrika se skoolsisteem, sê sy, lyk dit nie of daar genoeg hulpbronne is vir die begaafde kinders nie. “Daar is nie ‘n fokus om hulle vroeg genoeg te identifiseer of skoolwerk te differensieer nie.”
“Begaafdheid is ‘n geskenk wat aan ‘n persoon gegee word tot voordeel van die gemeenskap,” voeg De Villiers by.

Leave a Reply

error: Content is protected !!