Weer Kersboom-tyd op Riebeek se plein
Daar heers ‘n opgewondenheid in die Riebeekvallei oor vanaand se derde Aanskakel van die Liggies op die plein in Riebeek-Kasteel.
Dié Kersboom-aansteekseremonie is vir die eerste keer in Desember 2021 gehou en met verskeie ondernemings se ondersteuning verlede uitgebou tot ‘n groter geleentheid.

Die organiseerders raam daat daar verlede jaar meer as 1500 mense by die geleentheid was waar lekkergoed ook gratis aan ‘n paar honderd kinders uitgedeel is.
Riebeekvallei Gemeenskapsprojekte (RV Community Projects) is sedert 2009 nou betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte, aanvanklik onder die vaandel van Riebeek Valley Events (wat ook verantwoordelik was vir die First Fridays-inisiatief).

RVCP het met verloop van tyd ontwikkel en fokus tans op die ondersteuning van ‘n aantal gemeenskapsprojekte soos die Madri Gras-parade in Maart, die Kersboomseremonie (vanaand), Santa’s Shoe Box-projek, Dorpsmark op die plein, Steelband-projek, Kick Start-projek en Warren Pietersen se koskombuis.
RVCP is onlangs as ‘n nie-winsgewende organisasie geregistreer.

Die organiseerders hoop om met toenemende ondersteuning en deelname uit die gemeenskap die Vallei se dorpe die mooiste Kersdorpe in die Westelike Provinsie te maak, sodat besoekers die dorpe kan besoek, oornag en op dié manier ook die plaaslike besighede verder ondersteun.
Die aktiwiteite op die plein begin vanaand om 17:30 met die aanskakel van die Kersboom om 20:00.