Onderbewuste belangrik, sê Tom Dreyer
Ek dink nie daar is ‘n resep vir ‘n gedig nie. Ek skryf prosa ook. Prosa kan jy so half fabriseer, maar daar is iets misterieus oor ‘n gedig. Ek dink die rol wat die onderbewuste speel is nogal belangrik.
Só het bekroonde skrywer-digter Tom Dreyer Sondag by die maandelikse woordkunsbyeenkoms (Poetry Jam) op Riebeek-Kasteel gesê toe hy gevra is vir wenke vir opkomende digters.
Hy was een van verskeie bekende en plaaslike digters wie se werk deur hulself of ander voorgedra is.
“Jy moet jou kop tyd gee om te broei op ‘n ding. Gaan stap, gaan swem of doen so iets en laat jou gedagtes gaan. Daar moet ‘n soort vrye assosiasie gebeur in jou kop waaroor jy nie presies beheer het nie. Vat jou tyd en gaan weer terug na ‘n gedig toe.”
Dreyer is meer as twee dekades gelede in 2001 bekroon met die Eugène Marais-prys vir letterkunde vir sy roman Stinkafrikaners.
Hy het in 2007 as kortverhaalskrywer gedebuteer en vroeër vanjaar het sy eerste digbundel Nou in infrarooi verskyn.
Die eerste druk van dié bundel, vertel Dreyer, het in twee en ‘n half maande uitverkoop en die verkope van die tweede groter druk vaar ook goed.
Oor tegniese aspekte met gedigte sê Dreyer hy gebruik baie rym, maar meer binnerym omdat die binding wat dit gee nogal baie belangrik is.
‘n “Oorsteun op eindrym is problematies.
“Daar is iets roboties en deadening net so ta-dam. Dis soos die as wat net so deurslaan aan die einde van elke reel.”
“Die ander ding is om dalk ‘n bietjie weg te skryf van jouself af.” Emosies, sê hy, is belangrik, maar dit is soos om vir ander mense jou vakansiefoto’s te wys. Dit is vir ander nie heeltemal so lekker om na te kyk soos wat dit vir jou is nie.
“Jou eie wroeginge is nie per definisie vir mense interessant nie.
“Jy moet dit amper by die agterdeur probeer inglip. Praat oor die wêreld en praat oor die dinge en daardie emosie wat jou roer, kom saam met die hele verskynsel.”
By die byeenkoms Sondag het Herman (Donker) Jonker, een van die Poetry Jam-projekleiers, gesê hy “dink ou Shakespeare draai in sy graf om van jaloesie as hy moet weet hoeveel pret het ons in Afrikaans.
“Ek is vreeslik trots op hoe ons Afrikaans handhaaf hier. Riebeek-Kasteel het mettertyd met al die inkommers hier verander. Dit is nie meer Riebeek-Kasteel of Kasteel soos ons dit in die ou dae genoem het nie, dit is nou The Valley. So The Valley het nou taamlik ver-khaki.
Maar dit gaan goed met Afrikaanse digkuns.”
Onder die ander digterstemme en gesigte in die radio- en teaterwêreld wat deelgeneem het, of wie se werk voorgelees is, tel Daniel Hugo, Marcel van Heerden, Annemarie van Niekerk en Anita van der Walt.
Van Heerden het uit Rudolph Willemse se bundel Middelman voorgelees.
Verskeie ander Swartlandse digters en digters van buurdorpe het ook weer van hul eie of ander se skeppings of gedagtes voorgedra. Hulle sluit in Bradley Arendse, Donker Jonker, Delana Fourie, Kobus Frantz, Madel Fourie, Ade Kipades, Caren Kearley, Mike Amira en Jeanne Van Schoor.
Die volgende Poetry Jam is weer die laaste Sondag van Januarie aanstaande jaar.