Solo Studios 24 ‘gaan alle verwagtinge oortref’
Die jaarlikse Solo Studios-naweek wat vanjaar weer van 9 tot 11 Augustus in die Riebeekvallei plaasvind, beloof om vanjaar ‘n groter en meer opwindende spyskaart van kuns en vermaak in te sluit.
Só het die nuwe eienaars, Ashley Stone en Antonio Tomazini, by ‘n bekendstellingsgeleentheid by The Gallery op Riebeek-Kasteel gesê.

Solo Studios het ook ‘n nuwe korporatiewe vennoot, die beleggingsmaatskappy Geddes.
“Ons wil vanjaar ‘n geleentheid skep dat wanneer besoekers die vallei verlaat ná die naweek, hulle onmiddellik wil bespreek vir aanstaande jaar.
“Ons wil hê dit moet drie dae wees – en nog belangriker – drie aande van interessante vermaak, rolprente, optredes, kos en natuurlik wyn,” het Stone gesê.
Die 9de Augustus is Vrouedag en “daarom wil ons op daardie dag vroue in kuns, kos en wyn vereer met spesiale geleenthede wat ons binnekort sal aankondig”.

Hy het Klaus Piprek en sy groep wat Solo Studios in 2016 begin en tot in 2023 geneem het, bedank vir hul harde werk asook die goeie werk met die fondse wat hulle vir liefdadigheid geskenk het. Die begunstigdes in 2023 was die Wynland Filharmoniese Orkes en die Riebeekvallei Steel Band. Hy het bygevoeg dat hulle beplan om daardie bydraes voortaan voort te sit en hoop om dit groter te maak.
‘n Kerngroep van die Wynland Filharmoniese Orkes het die musiek verskaf by die bekendstellingsgeleetheid. Die orkes sal vanjaar weer as deel van Solo Studios op 11 Augustus ‘n konsert in die Riebeek-Kasteel NG Kerk aanbied.
Die komponis Kristi Boonzaaier het gesê dit was ‘n groot plesier om verlede jaar deel te wees van Solo Studios, “en ons is baie opgewonde oor ons optrede die aand”.
Hy het ook as blyk van waardering en in die gees van die verhouding wat daar reeds opgebou is met Solo Studios, ‘n spesiale gebinde kopie van die opdragwerk van 2023, Solo Symphony, oorhandig.

Tomazini het aan die gaste gesê hy is baie opgewonde in afwagting terwyl almal bymekaarkom om Solo Studios 2024 “in hierdie skilderagtige vallei te vier.
“Die geleentheid beloof om die platform te wees vir die ongelooflike kunstenaars wat dit waag om grense te verskuif en die kunstenaarslandskap te herdefinieer. Solo Studios het sinoniem geword met innovasie en kunstenaarsglans, en die 2024-uitgawe gaan alle verwagtinge oortref.
“Terwyl ons gretig wag op die ontvouing van Solo Studios, kan ons ‘n diverse verskeidenheid uitstallings, interaktiewe installasies en meevoerende ervarings verwag wat ons sintuie sal boei en ons persepsies sal uitdaag. Solo Studios is nie bloot ‘n byeenkoms van kunstenaars nie, dit is ‘n viering van die menslike gees en sy onbeperkte kreatiwiteitsvermoë.

“Hierdie geleentheid is nie bedoel net om kuns waar te neem nie. Dit gaan daaroor om betrokke te raak by kuns. Om onsself te verdiep in die stories en emosies wat in elke stuk verweef is.
“Solo Studios nooi jou uit om die grenslose moontlikhede van artistieke uitdrukking te verken, te bevraagteken en te waardeer.
“Ek moedig julle almal aan om die opwinding wat met hierdie komende geleentheid gepaardgaan, te omhels. Laat Solo Studios 2024 ‘n bewys wees van die krag van die kunste om te inspireer, te verbind en te transformeer,” het hy bygevoeg.