LatestSports

Begeesterde Rhinos klop Majestics

This is it Bossy, was die beroemde, of sal ons sê berugte, woorde aangeneem uit ‘n Schuster-movie net voor die Curriebeker gesteel sou word. Hiermee is ‘n begeesterde Rhino-span van Piketberg aangemoedig om ‘n wendroogte van drie vriendskaplike wedstryde te beëindig.

Met die afgelope naweek se wedstryd op Rhinopark, twee weke voor die Boland se Uitdaagliga afskop, slaag Piketberg daarin om oor die magtige Majestics van Citrusdal te triomfeer. By tye het dit gelyk asof dit ‘n proefwedstryd was, omdat die Rhino-spelers moes meeding teen van hulle eie spanmaats wat vir Majestics uitgedraf het. Die nuus rondom bannelinge uit Piketberg in die Majesticsse geledere het die tafel gedek vir skouspelagtige rugby.

Uit die staanspoor wou dit lyk dat die wedstryd in ‘n bokswedstryd sou ontaard nadat verskeie opponente mekaar vroeg in die eerste helfte beter wou leer ken. Toe het die wedstryd egter gou op dreef gekom en kon Majestics reeds in die vierde minuut eerste bloed ruik met ‘n drie gedruk deur die slot, Marlin. Die telling het na die doelskop opgeskuif na 7-0 in die guns van Majestics.

Christophai Booise sink Majestics se skip Foto: Mike van der Coke

Dit het nooit gelyk asof die span van Majestics gaan ophou om te hardloop nie. Aanvanklik het hulle pak voorlangs gedomineer, maar later behoorlik les opgesê in die tweede helfte. Majestics se stut en kaptein, Juicy, het weer in die 18de minuut onder die pale gaan kuier en met nog ‘n suksesvolle doelskop het die telling aangeskuif na 14-0 vir die besoekers. Dit het behoorlik gelyk asof die Rhino-span van Piketberg op hulle voete aan die slaap gevang was en kon hulle net nie momentum kry nie. Dit het laat dink aan ‘n trok met pap wiele wat van die een kant van die pad geswenk het na die ander kant.
In die 33ste minuut het sake begin verander toe die regtervleuel van die tuisspan, Charlton Sias, soos die spreekwoordelike warm mes deur botter gesny en onder die pale gaan druk het. Die losskakel Byron Baatjies kon ná twee verbroude strafskoppe, die bal deur die pale jaag om die voorsprong van Majestics met 7 punte te laat krimp.
Majestics het egter teruggeslaan en byna Piketberg se wind uit haar seile gehaal, toe Leonardo West, Majestics se woelige flank, gaan druk. Die doelskop het die telling voor halftyd na 21-7 in die guns van Majestics geneem.

Ná harde woorde gedurende rustyd deur die Rhinos se afrigter, het dit kompleet gelyk asof die spelers uit die dood herrys het.
Vanuit die staanspoor het die Rhinos die rolle omgeruil en self hardlooprugby begin opdis. Die stutte wat van die Rhino-bank afgekom het, het ook behoorlik verwoesting gesaai.
Charlton Sias het sy tweede drie in die agtste minuut gaan druk. Keishan van Rooy, die afloslosskakel, het die bal oorgeskop en is die druk effens verlig met die telling op 21-14. Die tuisspan se Marcelinno Adams het in die 16de minuut met ‘n stormlopie die telling op 21-19 te staan laat kom toe hy die doellyn oorgesteek het.
Met net ‘n minuut oor het Christophai Booise verder sout in die wonde van Majestics gevryf toe hy soos die destydse Gysie Pienaar na binne afgetrap het om die sege in die guns van Rhinos te beklink. Ná die verdoelde skop van Keishan, het die wedstryd op 26-21 in die guns van Rhinos geëindig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!