H Swartland sit krieketsegetog voort
Wen 4de agtereenvolgende Interskole
Die eerste krieketspan van die Hoërskool Swartland het gister hul segetog voortgesit om hul vierde agtereenvolgende sege in die jaarlikse interskole teen die besoekende span van Hugenote te behaal.
Dit was ‘n warm somersdag en die groot aantal toeskouers was ‘n goeie aanduiding van die groeiende mate van sukses en ondersteuning wat Swartland die laaste paar jaar op die krieketveld behaal.
Ná ‘n lang wendroogte het die Rockiespan van André Pienaar in 2021 die bordjies verhang om sake in ‘n ander rigting te stuur (Interskolesege met 7 paaltjies).
In 2022 het Swartland hul eerste tuisinterskole in jare met 75 lopies gewen onder aanvoering van Carlo van der Merwe en verlede jaar het Van der Merwe en sy span na Wellington gereis om die tuisspan met 33 lopies te klop.
Hugenote het gister die loot gewen en besluit om eerste slag te bied.
Van der Merwe (Swartland se kaptein), het vroeg toegeslaan en die paaltjie van Xavier Gertse met die derde bal van die tweede boulbeurt geneem toe Matthew Ferreira die vangkans benut het.
Die besoekers kon nie op dreef kom met hul lopietempo nie en die tweede paaltjie het in die 11de beurt gekantel toe Juan Meyer vir Arrin Adams laat terugstap het. Paaltjiewagter Stephan Malherbe het die vangkans geneem.
Swartland se boulers het die lopies beperk en reëlmatig paaltjies laat val in die volgende boulbeurte: 14de (b. Van der Merwe), 19de (b. Juriaan Schreuder), 28ste (b. Cobus Steyn), 30ste (b. Steyn), 36ste (b. Steyn), 37ste (b. Yeoman van Zyl) en 38ste (2 paaltjies vir Schreuder).
Die laaste paaltjie het gekantel met Hugenote se telling op 91.
Vir Swartland het Cobus Steyn en Pieter Hanekom eerste slag gebied.
Hanekom het 6 (1×4) lopies aangeteken voor hy sy paaltjie in die tweede boulbeurt verloor het.
JH Kleynhans het hom by Steyn aangesluit voor Steyn (7 lopies, 1×4) se penne gelig is.
Malherbe het op nommer 4 ingekom en 3 lopies bygevoeg.
Kleynhans se bydrae van 19 lopies van 23 balle het twee viere ingesluit.
Van der Merwe het weer ‘n kapteinsbeurt gespeel en 45 onoorwonne lopies (2×4, 3×6) van 38 balle aangeteken.
Ferreira (3, nie uit nie) was saam met hom voor die penne toe hy die wedstryd met ‘n 6 beklink.
Swartland se boulsyfers:
Schreuder – 6.5 boulbeurte – 3/11
Steyn – 10 boulbeurte – 3/35
Van der Merwe – 10 boulbeurte – 2/12
Aksiefoto’s is beskikbaar by hierdie skakel.