Nóg 2 sterre by digtersnaweek
Riebeek Valley Poet’s Rally om die draai
Oor ‘n week is dit tyd vir een van die grootste woordkunsnaweke wat die Swartland nog beleef het.
Riebeek Valley Poets’ Rally is nie net ‘n poësienaweek met verwante kuns en feestelikhede wat dit aanvul nie, maar onder die digters wat gaan optree, tel van die land se beste bekroonde digters soos Sindiswa Busuku en Jacques Coetzee.
Beide het al ‘n reeks toekennings vir hul werk ontvang en beide se trofeekas sluit die gesogte Ingrid Jonker-prys vir ‘n debuutwerk in.
dié courant het met dié twee gesels.
Riebeek Valley Poets’ Rally van 1 tot 3 Maart op Riebeek-Kasteel sal vir beide nie ‘n eerste keer in die vallei wees nie. Coetzee én Busuku het reeds by afsonderlike geleenthede gaste by die maandelike Poetry Jam op hul werk trakteer.
Busuku sê sy is opgewonde oor Poets’ Rally. “Daar gaan ‘n ongelooflike groep digters byeen wees en ek sien uit daarna om dit te hoor. Digters wat ek bewonder maar ook digters wat ek nog nie die plesier gehad het om te leer ken nie.
“En dit is nie net ons nie. Daar gaan soveel dinge aangaan. Ek sien uit na die vibe.”
Gevra of sy uit ‘n letterkundige agtergrond kom, vertel Busuku wat die Ingrid Jonker-prys in 2018 ontvang het, haar pa het baie gelees en dit was vir hom ‘n prioriteit dat die kinders ook moet lees – en sy het. “So in daardie sin was my pa ‘n literêre invloed, maar my ouers was nie skrywers of dosente nie.”
Dié boorling van KwaZulu-Natal is deesdae ‘n dosent in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad en besig met haar doktorsgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand. Haar debuutwerk, Loud and Yellow Laughter, was ‘n samestelling van foto’s, prosa en poësie waarin sy die verhouding tussen geheue en dokumentasie ondersoek. Die gedig A Portrait of a Mother and Indiscretion het aan haar ook die tweede plek in die 2015 Sol Plaatje Europese Unie-kompetisie besorg.
Sy sê sy het poësie gelees voordat sy dit op ‘n jong ouderdom begin skryf het .
“In die begin was dit ‘n fassinasie – die manier waarop mense in staat was om met min woorde – in ‘n baie gekondenseerde skryfstuk – ‘n hele wêreld te skep en jou dadelik daarin te plaas. Ek het gedink dit was nogal magies en ek was aangetrokke tot daardie vermoë – die soort akkuraatheid wat in poësie ingaan.”
Oor haar eie werk: “Ek hoop my werk nooi die leser uit om meer na hulself te kyk en meer introspektief te wees. Ek put inspirasie uit die wêreld, die mense, die kunste en musiek in die besonder.
“Mense is fassinerend. Om na mense te kyk – na die wêreld rondom ons te kyk is meer as net materieel.”
Sy sê van die grootste hoogtepunte is daardie kere wanneer mense na haar kom en sê: “Loud and Yellow Laughter het iets diep vir hulle beteken.” .
Gepols oor haar advies aan jong aspirerende skrywers en digter: “Hou net aan werk aan daardie kuns en praktyk om te luister.”
Coetzee is in die vroeë 70’s gebore, het op Worcester grootgeword en vertel hy het daar “baie goeie taalonderwysers gehad. Inspirerende onderwysers” in die Pionierskool waar hy sy skoolloopbaan voltooi het. Die klasse was klein en ‘n goeie onderwyser in ‘n klein klas word ‘n groot onderwyser.”
Al kon hy nie die boeke in die dorpsbiblioteek lees nie, het sy familie, veral sy ouer susters, vir hom baie gelees toe hy klein was. Maar plate – opnames van stukke soos Shakespeare – onthou hy, het hom aangegryp en “geïnspireer om meer te leer sodat ek die goed kan verstaan.
“Ek het my eerste paar gedigte gekryf toe ek 12 was maar op hoërskool meer ernstig begin dig.
“Op Universiteit (Stellenbosch) was ‘n mens te veel onder die invloed van ander digters. Hulle sit te veel op jou skouers.” Hy het later ‘n meestersgraad gedoen in kreatiewe skryfwerk en “al ernstiger begin skryf.” Meesal in Engels.
Sy debuut-solobundel, An Illuminated Darkness, was die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2022 asook die Olive Schreiner-prys en sy gedig Doepa vir Allenigheid was die wenner van die 2021 Avbob-poësieprys in die Afrikaanse kategorie.
Hoekom het hy nog grotendeels in Engels gedig? “Die Engelse leefwêreld het vir my groter gevoel.
Ek het, in verwaandheid seker, vir myself gesê ek wil internasionaal skryf – my uitskryf uit die kleindorpse agtergrond waar ek gebly het. Dit was eintlik seker ‘n verdedingsmeganisme teen blind voel. Ek het dit veel later eers verstaan. Nou dink ek jy moet nader aan die huis skryf. maak nie saak watter taal nie.”
Coetzee sê dit het lank geneem voor hy oor blindheid kon dig, maar sluit dit nou wel in sy werk in. Dit is jou ervaringswêreld en menswees wat mense dikwels in jou werk soek, verduidelik hy.
“Daar is ‘n wonderlike ding wat die digter Yeats gesê het. Uit jou bakleiery met ander mense, maak jy politiek. Uit bakleiery met jouself maak jy poësie.”
Hy sing en maak ook al jare musiek en vertel hy was vir lank ‘n straatmusikant (busker) in die V&A Waterfront en sanger-liedjieskrywer in die groep Red Earth & Rust en het ook ‘n paar albums opgeneem.
Hy is “op pad na ‘n nuwe Engles bundel toe, maar ná die Avbob-kompetisie is ek ook stadigaan besig om gedigte bymekaar te maak vir ‘n Afrikaanse bundel.”
Vir nuwe digters sê Coetzee: “Lees baie. Skryf gereeld. Skryf met ‘n gehoor in gedagte. Jy is nie alleen nie. Daar is platforms waar jy kan aansluit – met zoom kan enigiemand in die wêreld daarby aansluit.”
Oor Riebeek-Kasteel en die Riebeek Valley Poet’s Rally: “Daar is iets in die atmosfeer wat vir my inspirerend is. ‘n Gevoel dat baie soorte stemme welkom is – die stemme wat die mooi goed sê, maar ook die stemme wat vir jou uitdaag.”
*Poets’ Rally word moontlik gemaak deur ‘n toekenning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport via die Stand-stigting.