“Rooivleisfamilie eer Frederick se nagedagtenis”
Ná die skielike dood van een van die familie-eienaars van die Deli-Co-groep, Frederick Truter (46), het John Dürr hierdie huldeblyk vir dié courant geskryf.
Dit is met groot skok en hartseer dat die groter Rooivleisbedryf in Suid Afrika en die Wes-Kaap spesifiek, moet afskeid neem van Frederick Truter.

Frederick het die afgelope 26 jaar stelselmatig diep spore begin trap in ‘n familiebesigheid (Deli-Co) wat besig was om in die Riebeekvallei te groei tot een van die grootste werkverskaffers onder plaaslike inwoners en as ‘n leier in die landboubedryf, ook nasionaal.
Frederick was ‘n joviale familielid en vennoot in ‘n besondere familie en ‘n werkgewer wat omgegee het vir sy medemens.

Frederick Truter in gesprek met lede van die Agri Malmesbury se Skaapstudiegroep tydens hulle besoek aan Deli-Co se nuwe aanleg.
Hy het ook ‘n besondere band gehad met boere en lewendehawe-agente met wie hy op ‘n daaglikse basis skouers geskuur en onderhandel het. Dit het dikwels gelei tot hegte vriendskapsbande wat eintlik ongehoord was in ‘n hedendaagse besigheidsomgewing.

Frederick het nooit die raad en insette wat ouer garde tot sy beskikking gestel het, gering geag nie en dit dikwels as boustene gebruik om sy horisonne te verbreed tot voordeel van die totale rooivleisbedryf. Hy kon dus ‘n verskil maak waar hy ookal beweeg het.
Om oor meer as 50 jaar met hierdie familie in besigheid te staan (en 26 jaar saam met Frederick) getuig van wedersydse respek en lojaliteit teenoor mekaar. Dit is ‘n stille getuie van familiebande wat gebou is op die egte fondamente van harde werk, omgee vir mekaar en geloof in ‘n Skepper wat nooit die werke van Sy hande versaak nie.
Die “rooivleisfamilie” eer met groot deernis sy nagedagtenis en nalatenskap (legacy) en bid die Hemelse Vader se Genade en Liefde op hulle wat agterbly.
Ons is baie lief vir julle.
Groete, John Dürr en familie (sedert 1974 in besigheid met die Truters)