LatestSports

Rhino-eindtelling vlei Saldanha

Pickard teken al sy span se punte aan

‘n Emosionele Rhino-span het Saterdag in hul eerste wedstryd van die nuwe seisoen teen Saldanha in die Boland se Grootuitdaagliga opgedraf om hulde te bring aan hul ontslape spanmaat, Nolan Adams. Voor sy afsterwe op ‘n jeugdige ouderdom van 19 jaar was Nolan een van Rhinos se staatmakervleuels. Die spelers het nietemin gou aangeskakel en in hul wegwedstryd op die spel begin fokus.

Met die aanvang van die wedstryd het Samelio Claase van Saldanha binne die eerste minuut die lyn gebreek en onder die pale gaan kuier om ‘n voorsprong van 7 punte op te bou. Ná die drie het ‘n verbroude afskop aan die kant van die Rhinos, ‘n skrum op die middelveld afgedwing en kon die span van Piketberg reeds die druk ervaar. ‘n Hanteerfout aan die kant van Saldanha, het die kaptein van Piketberg, Muré Pickard, toegelaat om 60 meter te hardloop om die doellyn oor te steek. Met ‘n moeilike en suksesvolle doelskop, het Pickard die telling op 7 elk te staan laat kom.

Piketberg het baie foute in die eerste 20 minute van die wedstryd gemaak. Inskoppe vanaf die middellyn het aanvanklik nie die kwartgebied van Saldanha gehaal nie, lynstaaningooie het die opponente se springers gevind en die span het telkemale strafskoppe afgestaan wanneer hulle gestraf is vir opskrum. Ook was die Rhino-spelers nie effektief in die losskrums nie en het sodoende baie balbesit afgestaan. Dit het Saldanha se groter losvoorspelers die kans gebied om met die bal te baljaar.
Pickard slaag egter in die 25ste minuut daarin om sy span te laat voorloop toe hy ‘n strafskop van sy eie tientreë-stippelyn deur die pale stuur om die telling 10-7 te maak.
Die tuisspan het teruggeslaan en ná ‘n breekslag is die bal na binne gevoer en kon Saldanha se Brodie Botha die bal onder die pale druk om die telling te laat aanskuif na 14-10 in die guns van Saldanha.

Muré Pickard, kaptein van Rhinos, op aanval. Foto: Mike van der Coke

Piketberg se spel het toe ‘n merkbare insinking beleef ná ‘n onsmaaklike insident van ongeoorloofde spel weg van die bal deur een van Saldanha se spelers. Met ‘n gemiddelde ouderdom van 24 jaar aan die kant van die besoekers was die skrif aan die muur om hierdie groep te probeer motiveer om enigsins kompeterend te wees. Piketberg se jong spelers was so oorbluf dat wat daarna gebeur het as one way traffic beskryf kan word.

Monray Jacobs, die skrumskakel van Saldanha, het gemaklik onder die pale gaan kuier om die telling op 21-10 te staan te laat kom. Twee drieë deur De Wet van Rooyen en Samelio Claase het die halftydtelling na 31-10 in die guns van Saldanha geneem.
Dit het gelyk of die Piketbergers in die tweede helfte gewens het die wedstryd moes einde kry.
Met Pickard se tweede drie (verdoel) en nog drie drieë deur Saldanha, kon die twee spanne in die kleedkamers gaan afkoel met ‘n oorwinning aan die kant van Saldanha. Die eindtelling was 52-17.
Piketberg se volgende kragmeting is die komende Saterdag wanneer hul tuis speel teen Vredenburg. Laasgenoemde het die seisoen Saterdag op hul tuisveld goed afgeskop met ‘n sege van 24-14 oor Steenberg Cove.

Leave a Reply

error: Content is protected !!