EntertainmentLatestOns Mense

Swartland se Dean (Wade) gesels

Tien jaar gelede het die Swartland se Dean-John Smith behoorlik anker ingeslaan in die uitvoerende kunste toe hy met die Fleur du Cap-toekenning vir mees belowende dramastudent weggestap het.
Daarna het onder meer twee Fiëstas gevolg. In 2016 vir beste manlike byspeler vir sy rol in Dag is Bros en in 2019 vir Beste Manlike Byspeler vir sy rol in die teaterstuk, Klippe wat val – en die 2016 Aardklop-toekenning vir Beste Akteur vir sy vertoning in ’n Cock & Bullshit-Storie.

Intussen het hy ‘n huishoudelike naam geword – al ‘n hele klompie jare as Wade in Suidooster en die laaste jaar of wat ook as die karakter Auntie Bettie
Dié oudleerling van Liebenberg Primêr en Schoonspruit Sekondêr het in die harte van duisende gekruip.
Met ‘n vol program en vyf dae ‘n week op die Suidoosterstel in Milnerton, het Smith tyd afgeknyp om hierdie Saterdag weer in sy geboortestreek te kom kuier. Hy sal saam met medesterre van Suidooster en Binnelanders by die jaarlikse kykNET Buite-ekspo op die plaas Môreson langs die N7 deelneem aan die Jimmy’s Sauces Braai met ‘n Twist-kompetisie.
Toe Smith hoërskool toe is, het hy nie geweet ‘n mens kan ‘n loopbaan uit toneelspel maak nie. Daar was ook nie eintlik bekende akteurs op Malmesbury nie, sê hy.
Hy het drama as vak geneem en het sommer in graad agt al in die skool se toneelstuk gespeel.
En net daar het die toneelspelgogga waarskynlik gebyt.

Smith vertel aan dié courant van die destydse hoof van Schoonspruit, mnr. CP van der Merwe, wat ‘n “lekker balans gehou het tussen die kunste, rugby en akademie. Dit het my pad geteer vir hierdie loopbaan.”
Hy vertel van die groot invloed van die skool se drama-onderwyser Kobie Jacobs om hom as akteur te help vorm.
Sy was die inspirasie agter sy deelname aan die Tienertoneelkompetisie in 2010 wat hy toe gewen het en sy rol in die toneelstuk Vaselinetjie. Daar was ‘n goeie verstandhouding tussen haar en sy ouers en sy het baie vir hom gedoen.
Met hierdie blootstelling kon hy “sien dit is actually ‘n regte job“.
Nóg ‘n groot invloed was die ervare Peter-John Davids by wie hy ná skool klasse geneem het. Davids, seun van die legende Goliath Davids en oom van akteur Christo Davids, woon steeds op Malmesbury. Hy was ‘n paar jaar gelede ook die regisseur van die film As die See Byt.
Smith het in 2011 gematrikuleer en toe op Stellenbosch drama studeer en ook sy honneursgraad daar gedoen. Hier sonder hy Abduragman Adams uit as dosent en mentor.

Hy was 23 toe hy die rol as Wade in Suidooster losslaan en is sewe jaar later steeds in dié rol.
Intussen het Auntie Bettie – (Okay, bapaaai!) – gebeur. Hulle het een dag op stel gesit en “gesels oor ons grootwordjare en die spesifieke tipe tannies wat altyd vol confidence praat, maar dikwels die kat aan die stert beet het.
“Toe gryp ek ‘n “over the shoulder-lap daar en brille en hulle skiet twee kort videos.
Toe ek dit seker ‘n jaar later eers op sosiale media sit, was dit só gewild en almal het gevra vir nog.”
Dié karakter het gegroei met meer en meer videos en kort voor lank het maatskappye hom genader om as Auntie Bettie vir hul promosiewerk te doen. Nou ja, as Auntie Bettie dan gewilder is as Dean, dan is dit ook maar reg, skerts hy.

Toe kom Suidoosterfees en stel voor hy doen ‘n volledige Bettie-vertoning en toe hy met die stuk debuteer moes hulle ekstra stoele indra.
By die Woordfees verlede jaar het hy drie vertonings gehad en sedertdien was Auntie Bettie al op verskeie ander verhoë. Ook by Die Boer in Durbanville en in Desember by die Baxter-teater. Sy is oor ‘n paar maande op 5 en 6 Junie weer by Die Boer.
Hy sê hy sal nog graag ‘n bietjie wil toer met Auntie Bettie en die vertoning ook Malmesbury toe bring.
Later vandeesmaand by die KKNK is daar drie vertonings van Hallo, is Bettie wat praat – 29, 30 en 31 Maart. Hy is ook op die KKNK te sien in die Die Francois Toerien Show +.

Smith het al in verskeie teaterproduksie, films en op die kassie gespeel, maar watter een is sy gunsteling?
“O ek geniet teater. Daar kan jy speel. Televisie is ‘n vinnige pas. Jy doen jou T1 en take twee en dan gaan jy aan. Dis vinnig verby. In teater kan jy meer dinge probeer met ‘n karakter en jou kreatiewe kant meer benut, want jy het die tyd.
“Ek geniet natuurlik Suidooster ook, maar ek kan dit doen omdat ek weet ek kan teater ook doen.”

En kan ons uitsien na ‘n Auntie Bettie 2?
Hy glo daar sal definitief ‘n Auntie Bettie 2 kom, maar Auntie Bettie kan vir eers nog na ‘n hele par verhoë gaan, sê hy.

Smith, wat pas in Desember 30 geword het, is die jongste van drie kinders. Hy het twee ouer susters, Lynn (‘n arbeidsterapeut) en Jill (‘n skoonheidsterapeut).
Hy vertel sy dae is vol en soms, ná ‘n dag op stel met die skiet van Suidooster, repeteer hulle tot laat in die aand en ook naweke aan teaterproduksies.
So hy kom maar min in sy geboortedorp. Hy skerts dat beide hy en pa John James Smith in die TV-wêreld is. Hy speel op die kassie en sy pa se onderneming herstel TV’s.
As hy Malmesbury toe kom, kom smul hy aan ma Helen se heerlike kos. “Wat ookal dit is.” Ma se kos bly sy gunsteling. “Ek sê altyd: Ma, maak daar lekker los kos.”
Want daar is niks soos Ma se kos nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!