LatestSports

Rhinos laat Vredenburg skrik

Piketberg het Saterdag ‘n minuut van stilte gehou om eer te bring aan Nolan Adams wie se lewe verlede jaar skielik kortgeknip is.
Die klub het in die Boland se Grootuitdaagliga (Weskus) besoek ontvang van Vredenburg. Laasgenoemde het die vaste faset goed benut en kon reeds in die vyfde minuut van die wedstryd hul eerste drie druk toe Jodin Williams vanuit ‘n lynstaan die doellyn oorgesteek het. Met ‘n strafskop minute later deur Nezro Cleophas was die telling 8-0.

Piketberg het teruggeslaan en Cheslinne Monk het 50 meter ver gehardloop waarna hy na binne geswenk het om die bal na Sashin Dirks te plaas vir ‘n drie onder die pale. Die tuisspan se Muré Pickard het die verspotmaklike doelskop deur die pale gejaag om die agterstand te laat krimp na 8-7.
Nadat een van die Rhino-spelers die bal vasgehou het op die grond, kon Cleophas egter met nog ‘n strafdoel die telling laat aanskuif na 11-7.

Die Piketberg Rugbyklub het ‘n minuut van stilte gehou vir een van hul staatmakervleuels, Nolan Adams, wat oorlede is. Hier is van links Pieter van Wyk (bestuur), Muré Pickard (1ste span kaptein), Annaline Dirks (Nolan se ma), Arend Markus (voorsitter) en Manuel Dirks (stiefpa). Foto: Mike van der Coke

Hierna het Piketberg telkemale ongedwonge foute begaan en die kaptein van Vredenburg, Conan le Fleur (Kabamba) die kans gegee om twee keer te gaan druk. Met die telling op 21-7 in die guns van Vredenburg, het die rooiligte vir die Rhinos begin flikker. Dit was ook die rustydtelling.
Jean Papier se geelkaart in die tweede helfte het egter ‘n ommeswaai gebring. Ná ‘n tweede hoogvat kon Piketberg daarin slaag om die telling na 21-10 te neem. Monk druk sy eerste drie minute later en Muré se doelskop laat die Rhinos asem skep met die telling op 21-17. Die tuisspan kon in die 10 minute teen 14 man letterlik vir elke minuut ‘n punt aanteken.

Vredenburg se frustasies was hoog toe Gerrit van Neel in die 22ste minuut ‘n rooikaart ontvang het. Dit het voorgekom asof hy nie met die besluit van die skeidsregter wou saamstem nie. Kort hierna trap Piketberg se speler van die wedstryd, Monk, na binne om die bal vir Christophai Booyse te voer en kon Piketberg vir die eerste keer in die wedstryd voorloop ná ‘n skitterende drie. Die telling 22-21 in die guns van Rhinos.
Dit het gelyk of daar ‘n mate van paniek in die Vredenburg-kamp posgevat het en was hulle op die agtervoet gevang.
Ongedwonge foute en strafskoppe wat nie die teiken kon haal nie, het verdere onsekerheid onder die Burg-Boys gebring.
Die span het egter nie laat slaplê nie en is uiteindelik in die laaste minuut beloon met ‘n drie nadat Dihago Booise die bal nie onder beheer in die doelgebied kon kry nie. Vredenburg kon die wedstryd in hul guns beklink met ‘n oorwinning van 26-22.
Piketberg speel hierdie naweek weg teen Steenberg’s Cove wat die afgelope Saterdag ‘n loslootjie gehad het. Hulle het die vorige week met 24-14 teen Vredenburg vasgeval.

Leave a Reply

error: Content is protected !!