Agri/BusinessLatestNews

Swartlanders keer terug by nuwe hospitaal

Hy het al van kleins af geweet hy wil ‘n dokter word en het nie eintlik iets anders oorweeg nie. Maar hy het nie voorspel dat hy na Malmesbury sou terugkeer nie.
Nou is dr. Chris Blom aangestel as hoof van die noodeenheid van die splinternuwe Crestcare Malmesbury Hospitaal wat oor ‘n rapsie meer as twee maande open.
Die hospitaal beslaan 7707m² en sal na verwagting vir tussen 250 en 300 mense werk verskaf, sê die nuwe hospitaal se hoofbestuurder, Charl Hambridge.

Ook Hambridge het al lank bande met die Swartland en was in Laerskool Swartland tot Standerd 1 (Gr 3). Hy was later ook vir bykans 10 jaar die rekenmeester van Roelcor/Swartland Volstruise op Malmesbury. Hy was later vir bykans 9 jaar die bestuurder van Cancercare (onkologie eenhede van GVI-onkologie Panorama en Cape Gate). Hambridge was ook in 2013 die eerste spreker van buite die Verenigde State wat in die 30 jaar van die Administrateursvereniging van Bestralingsonkologie (SROA) se bestaan daar genooi is om leierskapaanbiedings in Atlanta en San Antonio te doen.

Charl Hambridge, hoofbestuurder van die nuwe Crestcare Malmesbury Hospitaal.

Die moderne Crestcare Malmesbury Hospitaal word tans toegerus en sal volgens plan op 1 Augustus open.
Daar is in die eerste fase 84 beddens. Studies het twee jaar gelede al getoon die behoefte is nader aan 160. Daar word wel voorsiening gemaak vir verdere uitbreiding in ‘n volgende fase.

Dokters sal aanvanklik in drie van vier teaters by die hospitaal opereer.

Die grondvloer sluit die ontvangs (ingang aan die oostekant), ‘n koffiewinkel, apteek, radiologie, laboratorium, die noodeenheid (ongevalle/trauma-eenheid) met 8 beddens/behandelingstasies aan die De Zwartland Markt-winkelsentrum se kant en die dokters se kamers aan die noordekant in.

Voor: Die bekendstelling van die hospitaal is ‘n jaar gelede in hierdie area gehou wat voortaan as die dokterskamers (onder) sal dien.

Op die eerste vloer is daar:
‘n 8-bed intensiewe/hoësorgafdeling,
‘n 5-bed neonatale intensiewesorg-afdeling
‘n 10-bed kraamsaal,
‘n 8-bed pediatriesaal,
‘n 25-bed mediese saal,
‘n 20-bed sjirurgiesaal en
‘n 8-bed dagsaal.
Daar is vier teaters waarvan aanvanklik drie toegerus en gebruik sal word.

Die radiologie-praktyk van SCP sal oor moderne toerusting vir magnetiese resonansbeelding (MRI) asook ‘n rekenaartomografieskandeerder (CT) beskik. Daar sal ook ‘n Pathcare-laboratorium en ‘n apteek wees. Hambridge wil nog nie die aap uit die mou laat oor watter koffiewinkel daar sal oopmaak nie.
Hambridge en sy vrou (‘n radioterapeut) en twee dogters woon al die laaste paar jaar weer in die Swartland.
Hy sê daar sal ongeveer 15 spesialiste met kamers by die nuwe hospitaal wees en ander ondersteuningsdienste soos fisioterapeute sal vanuit die dorp gebruik word. Hulle sal ook binnekort meer besonderhede bekend maak oor watter spesialiste by die hospitaal sal werk.

Met ons besoek vandeesweek is die beddens vir die nuwe hospitaal afgelaai.

Die Crestcare Malmesbury Hospitaal is so ontwerp met publieke gange aan die voorkant en meer kliniese (“skoon”) gange agter vir pasiënte en personeel. Die plan is om in ‘n volgende fase te kyk na dialise en moontlik onkologie.

Die intensiewe/hoësorgafdeling sal 8 beddens hê.

– Blom vertel hy is ‘n boorling van Malmesbury en was in die ACVV Speelkasteel, Laerskool Swartland en Hoërskool Swartland.
By HSS het hy uitgeblink en was hy in 2007 hoofseun en ook kaptein van die eerste rugbyspan.
Daarna het hy op Tygerberg (Universiteit Stellenbosch) medies studeer.
Hy was ook in die Hippokrates-koshuis se rugbyspan, Maties se derde span en die universiteit se sewesrugbyspan.
“Maar toe het akademie as prioriteit oorgeneem.”
Hy het sy graad in 2013 voltooi en toe vir twee jaar sy internskap gedoen in Pietermaritzburg.

Daarna in 2016 het Blom se derde gemeenskapsjaar by Robertson Hospitaal gevolg en toe pak hy en sy vrou, Lecia, hul tasse Ierland toe. Daar het Blom in Galway (in Wes-Ierland) vir twee jaar in die universiteit se opleidingshospitaal gaan werk en onder andere pediatrie, ortopedie en noodmedisyne gedoen. Dit is ook hier waar sy “liefde vir noodsorg bevestig is”.
Met hul terugkeer het hul in die Paarl gaan woon. Hy het eers by die Louis Leipoldt Hospitaal in Bellville gewerk voor hy by Stellenbosch Medi-Clinic se noodeenheid aangesluit het. Blom het toe ook sy diploma verwerf in primêre noodsorg (Diploma in Primary Emergency Care – Dip PEC(SA)).

Blom en sy tweelingsuster, Nettania, was uitblinkers by Hoërskool Swartland. Hier is hulle ná die 2007-prysuitdeling saam met die skool se spiesgooikampioen Robert Oosthuizen wat die pryse oorhandig het.

Dié oud-Rockie sê die koms terug Malmesbury toe “is iets wat ek nie voorspel het nie. Om eerlik te wees.” Maar hy sien baie uit daarna om die gemeenskap en streek te dien. Een van die uitdagings, meen hy, sal wees om met volgehoue gehalte diens en sorg die mense se vertroue in die hospitaal te wen.
Die gesin woon tans nog in die Paarl. Lecia is ‘n ouditeur en hulle het twee kinders.
Blom sê hulle is beide plattelanders en wil hulle op Malmesbury vestig en hul kinders hier kom groot maak.

Leave a Reply

error: Content is protected !!