Hoe gemaak

Hoe gemaak met… onkruid in my gras

Soos wat die koeler dae aanbreek en dit ook so af en toe reën, begin die winter onkruide sommer vinnig kop uitsteek.
Hoe vroeër daar opgetree word, hoe makliker kan die probleem beheer word. Onkruid in jou grasperke:
Die een onkruid wat oordadig hier in die Wes-Kaap in die wintermaande sy kop uitsteek, is wintergras (Poa Annua).
Dit kan nogal veral in die meer skaduryke, klam areas ‘n welige pes word.
Probeer om ‘n selektiewe onkruiddoder soos Lawntyl of Kerb te gebruik om die uitbraak te stuit.
Altwee die produkte kan voorkomend gebruik word, asook na opkoms.

Dit beteken indien jy vroegtydig spuit, maak dit die saadjie dood sodra dit ontkiem. Na-opkoms bespuiting vat nogal ‘n paar weke voordat die onkruid vrek.
Dan is daar ook ‘n verskeidenheid van ander breëblaar-onkruide wat kan uitkom, maar gelukkig is daar ook ‘n hele paar middels wat selektief is om dit mee te beheer, soos M.C.P.A, Hormoban, Turfweeder of Super Lawnweeder en Lawntyl. Onthou om slegs die middels te gebruik indien die onkruid reeds groei, want die middels word deur die chlorofil in die blaar opgeneem en so in die plant ingevoer.
Dit help nie jy spuit as daar geen onkruid is nie, – want dan gaan niks werk nie.
Onkruid in my tuin:
2.1 Onkruid wat op oop areas begin groei, kan met ‘n algehele (nie selektiewe) onkruiddoder soos bv Glyphogan (Glisofaat) bespuit word, maar onthou, DIT MAAK ALLES DOOD!
Dit wil sê jy moet niks raakspuit wat jy nie dood wil hê nie.
2.2 Onkruid tussen jou plantjies en struike moet maar liefs met die hand uitgetrek word, daar is nie ‘n kortpad met onkruiddoder nie.

Gebruik altyd ‘n goeie benatter/kleefmiddel, asook ‘n PH-buffer sodat die produkte beter kan funksioneer.
Spuit op die warmste deel van die dag, wanneer die wind verkieslik nie waai nie. Die belangrikste is om jou spuittoerusting baie deeglik skoon te maak sodra jy klaar is.
Moet geen giwwe in spuitkanne bêre nie en gebruik ‘n sterk amoniak-oplossing soos bv Scrubs Amoniak om kanne mee uit te spoel en ook deur die pyp en spuitkop (nozzle) te spuit.
Algemeen: Lees altyd instruksies en wees versigtig!!! Nou is dan ook die laaste kans om blombolle te plant wat in die lente gaan blom.
Die lelies is eersdaags beskikbaar.
Tuingroete
George Retief

(tuinbourubriek uit dié courant se argief)

Leave a Reply

error: Content is protected !!