Darling hou Veldblomskou: 20-22 September
Promosie
Waarom Darling?
As dit nie was vir die insig en omgee van ‘n klompie inwoners en boere van die Darling omgewing wat meer as ‘n 100 jaar gelede begin het om die krities bedreigde Swartland renosterveld te beskerm nie, sou daar nie ‘n veldblomskou in Darling gewees het nie. Renosterveld is die minder bekende kleinsus van fynbos, maar is soos fynbos een van die mees biodiverse plantegroei-tipes in die wêreld. Met minder as 5% oor in die wêreld, word renosterveld beskou as krities bedreigd en onvervangbaar!

Net soos fynbos word renosterveld gedomineer deur struike en ‘n oorvloed geofiet(bol, risoom en buis)-spesies, maar daar is ‘n gebrek aan proteas, erikas en riete wat eie is aan fynbos. Heelwat renosterveld-geofiete is endemies en gelys op die rooilys vir bedreigde spesies. Die naam renosterveld is na bewering afgelei van die oorheersende grys kleur van die struikveld wat baie soos die velkleur van ‘n renoster lyk. Daar is ook ‘n ander siening dat renosters lank gelede in hierdie omgewing voorgekom het. Die Darling Renosterveld A-, Renosterveld B(Groenekloof)- en Tienie Versveld-reservate is regdeur die jaar toeganklik vir die publiek terwyl die Oudepost- en Waylands-reservate gedurende die blomseisoen (laat Augustus tot middel Oktober) ook oop is. Indien u die wonderwêreld van die renosterveld wil ontdek, sal elk van die reservate bydra om die prentjie in te kleur.

Waarom ‘n Skou?
Waarom moet ek geld betaal om Darling se blommeskat by ‘n uitstalling in ‘n gebou te besigtig as ek dit gratis in die veld kan geniet? Sommige van ons baie unieke blommetjies kom slegs in ‘n bepaalde reservaat voor en mag moeilik wees om te vind. Daar is ook ‘n aantal van die baie raar spesies wat op plase voorkom wat nie vir die publiek toeganklik is nie.

Weersomstandighede speel altyd ‘n rol en die blomme maak slegs oop vir ongeveer 5 ure per dag as die son skyn. Ons uitstalling word goed beplan om die verskillende biome en plante wat daarin voorkom op ‘n kompakte dog opvoedkundige en estetiese wyse aan die besoeker voor te stel. Blomme word deur vrywilligers onder kundige toesig in verskeie reservate en op plase gepluk en baie versigtig hanteer om te verhoed dat hul moederplante en omgewing beskadig word. Die veldblommeskou het in die verlede ‘n groot rol gespeel om besoekers bewus te maak van die baie spesiale stukkie natuur wat hier tussen die koringlande versteek is. Gevolglik is baie besoekers oorreed om terug te kom en genoeg tyd in die reservate te spandeer. Die hele Weskus het pragtige veldblomme gedurende die winter- en lentemaande, maar die meerderheid van Darling se blommeskat sal jy net in Darling sien.
Vir meer inligting, besoek gerus Darling Veldblom-webwerf.