Pulpit Rock wen die grote op Jongwynskou
Pulpit Rock het gister op die Swartland Jongwynskou op Yzerfontein met die gesogte kampioentrofee vir die algehele streekwenner weggestap. Die kampioenwyn is ‘n cinsaut in die klas 58:2.
Die kelder het uitstekend gevaar en naas dié Absa Grootkampioen, ook die Vinochem-trofee vir die 5 beste inskrywings; die Kotzé/Steyn-trofee vir die kampioen-shiraz (klas 74:3); die Porex SA-trofee vir die kampioen-merlot (klas 63:12 – gehoute merlot); die Séan Nieuwoudt-trofee vir die kampioen-cinsaut (klas 58:2) en die Santam Landbou-trofee vir die kampioen ander rooi kultivar (klas 66:6 – petit verdot) ingepalm.
Darling Cellars was die ander groot wenner in vanjaar se Swartlandkompetisie. Hulle het die CJP Chemicals-trofee vir die kampioen-chenin blanc (klas 09:8 – gehoute chenin blanc); die Vinventions-trofee vir die kampioen-sauvignon blanc (klas 14:71); die Malmesbury Toyota-trofee vir die kampioen droë wit versnit (klas 02:3 – gehoute sauvignon blanc/ sémillon); die WPK/Kaap Agri-trofee vir die kampioen natuurlike soetwyn (klas 44:11 – bukettraube); die Kobus Basson-trofee vir die kampioen-pinotage (klas 71:33 – gehoute pinotage) en die Nexus-trofee vir die kampioen droë rooi versnit (klas 51:41 – gehoute pinotage/shiraz) verower.
AA Badenhorst Family Wines het twee bekers in hul kas trofeekas bygevoeg. Hulle het vir hul gehoute cabernet sauvignon (klas 57:19) die Wine Machinery-trofee vir die kampioen-cabernet sauvignon ontvang en met hul Cape Ruby (klas 82:1) die SAIL-trofee vir die kampioen versterkte wyn ingepalm.
Die Riebeek Valley Wine Company het met hul gehoute chardonnay (klas 07:39) die Enartis-trofee vir die kampioen ander wit kultivar ingeoes.
Die gasspreker by gister se toekenningsgeleentheid was Johan de Villiers, eertydste produksiebestuurder van die Swartland Wynkelder nadat hy daar in die vroeë tagtigs as wynmaker begin het.
Hy het gesê die Swartland is na aan sy hart en vertel van die uitdagings om die Swartland, destyds bekend as ‘n warm streek vir rooiwyn en soetwyn, ook bekend te laat word as ‘n streek wat goeie witwyne produseer.
De Villiers het die belangrikheid en bemarkingswaarde van kompetisies soos die jongwynskou uitgelig.
“Mens kan prestasies gebruik om wyn te verkoop.” Hy het vertel hoe dit jare al deure oopmaak om groot internasionale kopers na die kelders te bring.
Hy vertel dat met ‘n handelsmerkopname in die 90’s die Swartland Wynkelder naas Nederburg die bekendste wynhandelsmerk in die land was.
Die Swartland-streek met min kelders (Mamreweg, Swartland Wynkelder, Riebeek Kelder en Allesverloren) was aanvanklik deel van die Stellenbosch Jongwynskou deelgeneem.
Daar het dit al beter gegaan met die Swartlandse kelders en later “te goed gegaan. Toe is ons nou nie meer baie welkom daar nie.”