Agri/BusinessLatest

Passie word hier gebottel en geniet

Vir meer as ‘n eeu boer die Du Toit’s al op dié plaas in die Riebeekvallei.
Die vierde generasie is vier seuns. Twee van hulle is nou ook al ‘n klompie jare aan die boer met die twee ander wat in ander professionele beroepe staan.
Toe die eerste geslag die plaas in 1907 aangekoop het, was daar al wingerd op die plaas. Die kelder en huis was langs mekaar, maar later in 1928 het hulle die nuwe opstal gebou.

Vandag boer Pieter, wat ‘n jaar of wat in Frankryk rugby gespeel het, en Daan op twee plase – Knolfontein (die familieplaas buite Riebeek-Wes) en Brandwag tussen Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel wat hulle ‘n paar jaar gelede gekoop het.
Maar die doel van ons besoek aan Knolfontein saam met en klompie ander mediamense is om die storie van die Knolfontein-wyn te hoor en dié bekroonde wyne te proe. Pieter het vir ons die storie vertel.

Die proelokaal is in die ou kelder wat iewers uit die middel 1800 dateer. Daar hang enkele sertifikate van onlangse wyntoekennings, maar hier onderkant Kasteelberg naby Jan Smuts se geboortegrond het al verskeie top-wyne hul beslag gekry
In die 90’s het pa Danie, wat al die jare by die Riebeek-Kelder (deesdae Riebeek Valley Wine Company) lewer, die Swartland se blokkompetisie gewen met ‘n Chardonnay-blok.

Pieter du Toit gesels oor die kultivars wat goed aard op Knolfontein, buite Riebeek-Wes.

Wyn van daardie blok het in 2002 ook internasionaal presteer en goud verwerf in die Chardonnay du Monde-kompetisie.
Sedertdien het etlike ander toekennings gevolg waaronder weer die wenner van die Swartlandse blokkompetisie (2007/2008) tot vanjaar se beste Shiraz in Suid-Afrika in die jaarlikse Shiraz-verslag. Dié wyn van die Riebeek Valley Wine Co (Raar Shiraz Carbonic Maceration 2023) is gemaak van Knolfontein-druiwe.

Terwyl Pieter ons ontvang, die wingerd gaan wys en gesels oor hul drie wyne onder die Knolfontein-etiket, is Pa Danie in ‘n trekker besig om grond voor te berei sodat daar geplant kan word. Danie het sedert hy destyds die leisels oorgeneem het, al 52 parsseisoene op Knolfontein agter die rug.
Pieter (41) sê hulle het nie ‘n oorvloed water nie, maar hulle gebruik besproeiing om die hittegolwe vir die wingerde te help versag.
Die Rhône-kultivars vaar goed in die warm toestande waar dit maklik 40 grade raak.

Top-wyne onder ander etikette word dikwels met druiwe uit die Swartland gemaak.
Pieter vertel dat Ken Forrester voorheen Chenin Blanc-druiwe van hul gekoop.
Onder die ander kelders wat al by hulle druiwe kom koop het, tel Blake’s Family Wines, Rickety Bridge, Boplaas by Calitzdorp en La Motte.
Jakkalsvlei het vanjaar op die nasionale jongwynskou die Suid-Afrikaanse Wynboerevereniging (SAWFA)-trofee vir die Kampioen Kaapsestyl-wyn gewen met druiwe wat ook op Knolfontein geproduseer is.

Op die twee plase pars hulle tans tussen 3 000 en 3 500 ton.
Daar is Chenin Blanc, Cinsaut, Shiraz, Pinotage, Grenache, Mourvèdre, Touriga Naçional, Chardonnay, Malbec en Marsanne.
Sewe ton (Chenin Blanc, Cinsaut en Shiraz) daarvan gebruik hulle nou vir die Knolfontein-wyne waarvan die eerste in 2020 gemaak is.
Dié drie enkelkultivarwyne wat tans beskikbaar is, kan beskryf word as ‘n boetiekreeks wat erfenis, uitnemendheid en unieke uitdrukking aan die plek waar die wingerde floreer, weerspieël.
Die wyne word by die boetiekkelder van die Riebeek Valley Wine Co gemaak.

Pieter gaan wys vir ons die drie blokke waarvan hul drie wyne gemaak word. Hy pluk ‘n “blomtrossie” van elk om te wys die Chenin (middel) het klaar geblom, terwyl die Shiraz (links) aan die blom is en die Cinsaut (regs) nog nie begin blom het nie. Die Chenin het ook ‘n kleiner trossie en korrels.

Wynmaker Sheree Nothnagel sê jy moet vir jouself afvra wat is jou doel met dit wat jy doen.
“My doel is om my passie te deel. Nie net om my passie te deel nie, maar ook om die wingerd vir mense in ‘n glas te wys.”
Gevra hoekom hy besluit het om wyn onder hul eie etiket te maak, sê Pieter: As ek eerlik moet wees. Dit is seker maar ‘n bietjie van ‘n ego-ding, maar ek dryf dit om ‘n goeie besigheid te wees. Daar moet iets van jouself in wees. Anders doen jy dit net vir geld.”
As ek dit reg kry om jaar na jaar die wyne in ‘n jaar se tyd uitverkoop te kry, sal ek ‘n ander een bysit. Dit sal ‘n Malbec wees, maar, ‘n “Grenache/Mourvèdre/Shiraz versnit kan dalk ook goed doen,” voeg hy by.

Wynmaker Sheree Nothnagel kyk na die 2021 en 2022 Cinsaut in die glas.

Onder sambrele langs die ou kelder/proelokaal begin ons die proe en kuier gesellig op ‘n rustige warm vroegsomersdag.
Die proelokaal is tans op Saterdae oop op afspraak vir tot tien mense en gaste kry ‘n unieke geleentheid omdat Pieter wat die hele jaar die wingerde boer, self die proeë aanbied.
Ons begin met twee oesjare se uithaler-Chenins (2022 en 2023) vanaf Blok 2. Dié wingerd is 32 jaar oud.
Die oudste Chenin op die plaas is ‘n bietjie ouer – in 1986 geplant.
2023 was ‘n koeler jaar met ‘n bietjie meer natuurlike suurgehalte in die druiwe wat ook tot die wyn se leeftyd bydra, verduidelik Pieter. “Baie mense dink witwyne kan nie verouder nie, maar dit is nie waar nie. Dit hang af van die styl en van die kwaliteit van die wyn.”
Ons geniet dit met ‘n bokmelkkaas en ook met salm.
Proenotas:
Die Knolfontein Chenin Blanc gaan goed saam met ‘n weskuskreef, waterblommetjiebredie en geroosterde varkrib.
R140,00
Oesjaar: 2022
Opbrengs: 10 ton / ha
Totale produksie: 3000 bottels
Veroudering: 7 maande
Potensiaal: Tot 5 jaar
Alkohol: 13,42% vol

Dan gaan ons oor na twee oesjare van die Cinsaut (2021 en 2022).
Proenotas:
Die Knolfontein Cinsaut pas goed by lamskenkel, tradisionele beesstert-‘potjie’ met kapokaartappels of stadig-gekookte boeuf bourguignon.
R240,00
Oesjaar: 2022
Opbrengs: 11 ton / ha
Totale produksie: 1950 bottels
Wyn van Oorsprong: Swartland
Veroudering: 7 maande
Potensiaal: Tot 10 jaar
Alkohol: 13,21% vol

Daarna volg die veel voller en swaarder van die drie sibbe: die Knolfontein Shiraz.
Ook twee oesjare – 2021 en 2022.
Pieter het vroeër sy voorskoot aangetrek en agter die mobiele braaidrom drie pragtige beeshaas-snitte op die kole gegooi. Dit is een van sy kenmerkende disse: Plankie. Perfek gebraai met ‘n bypassende doopsous.
Proenotas:
Die Knolfontein Shiraz pas goed by biefstuk op die kole en ‘n kruiebotter, stadig gebraaide varkribbettjie of koedoe.
R350,00
Oesjaar: 2021
Opbrengs: 8 ton / ha
Totale produksie: 2000 bottels
Veroudering: 12 maande
Potensiaal: Tot 15 jaar
Alkohol: 13,89% vol

Op Knolfontein is daar passie. En dit vloei ongetwyfeld tot binne-in die glas.
Elke jaar met parstyd sit pa Danie nog op die trekker en ry druiwe aan na die kelder by Riebeek-Kasteel.
Die vyfde generasie Du Toit’s is nou al daar. Die oudste een amper agt. En wie weet, dalk is dit oor ‘n dekade of wat sy beurt om die druiwe te begin aanry en deel te word van die Du Toit-nalatenskap aan die voet van Kasteelberg.
Die Knolfontein-wyn is beskikbaar by die aanlynwinkel (www.knolfonteinwines.co.za) en in ‘n paar restaurante.

Leave a Reply

error: Content is protected !!