WD het planne met vervalle Moorreesburg-stasie
Die Moorreesburg-stasie is verlate en vervalle met slegs goederetreine wat nog hier gesien word.
Op die een gewel wat oor is van die gebou, staan die jaar 1926.
Nou, bykans 100 jaar later, is daar planne om dit skoon te maak, te herbou en weer te gebruik.

Heinrich Robertson, ‘n woordvoerder van die Weskus Distriksmunisipaliteit, sê by navraag aan dié courant die munisipaliteit het planne met die gebou.
“As deel van die distriksmunisipaliteit se fokus op toerismebemarking en holistiese plaaslike ekonomiese ontwikkeling, oorweeg die munisipaliteit voortdurend geleenthede wat hierdie visie kan bevorder.
“Die Moorreesburg-stasiegebou skep geleentheid om die historiese konteks van die gebou te behou en sodoende die erfenis te deel met toekomstige generasies, maar terselfde tyd bied dit geleentheid om treintoerisme te bevorder deur ons Weskus-streek.
“Gesprekke in hierdie verband het begin en sal ons binnekort dit deel maak van ons toerismebemarkingsvooruitsigte.”

In die Swartland Erfenisopname van 2009 word aanbeveel dat die, toe reeds half vervalle gebou, ‘n 3A-klassifikasie (van hoë erfeniswaarde in die plaaslike konteks) kry. Dit word beskryf as ‘n “baie goeie voorbeeld van sy tyd met 3 gewels wat aan mekaar verbind word deur ‘n veranda. Dit het ‘n neo-klassieke sentrale gewel met ‘n ronde luggat en ryk versierde pleisterwerk en Marseilles-dakteëls.”

Robertson sê beplanningsbefondsing is reeds bekom en ‘n “holistiese voorlegging sal aan die raad gedoen word nadat administratiewe aspekte met die eienaar, Transnet, afgehandel is.
“Ons kyk nie net na die ou stasiegebou in isolasie nie, maar al die geboue op die perseel.
“Dit sal meer geleentheid bied vir verskeie aktiwiteite soos vervat in ons toerisme- en plaaslike ekonomiese ontwikkelingstrategie.
“Dit gee ook geleentheid om die verval van daardie spesifieke area aan te spreek. Hierdie projek sal in fases gedoen word en fase een sluit die skoonmaak, beplanning en beveiliging van die perseel in.

“Fase een sluit ook die erfenisaansoek in, wat dan meer duidelikheid sal gee oor die totale koste van die projek.
“Die munisipaliteit beoog om ‘n gedeelte van die gebou te gebruik vir beplande munisipale dienste. Die idee is om dit as “Toerisme Hub” aan te wend wat ook die inloop van kliënte meer werkbaar sal maak. “
Hy voeg by dat die implementeringsooreenkoms bestuur en gemonitor word deur die Transnet-stigting wat soortgelyke inisiatiewe uitvoer.
“Ons wag tans vir die finale ondertekening deur Transnet-eiendomme alvorens enige werke, waaronder skoon maak en beveiliging, kan begin.”
Die bou van die spoorlyn – eers tot in Malmesbury en daarna tot by Eendekuil en uiteindelik tot by Bitterfontein was ‘n kardinale ontwikkeling om die streek se ekonomie te ontwikkel.
Ná die eerste spoorlyn volgens rekords tot op Wellington gebou is, is druk in die 1860’s vanuit ander streke geplaas om dit ook per spoorlyn met Kaapstad te verbind.

In 1877 is die spoorlyn tot op Malmesbury geopen.
In April 1882 is ‘n ingenieursverslag uitgereik van die opnames en skattings vir die voorgestelde uitbreiding van die spoorlyn vanaf Malmesbury na Piketberg.
Die plaas Hooikraal waarop Moorreesburg ontstaan het, is in 1839 as erfpag aan Tobias Lochner gegee.
Hooikraal was nie aanvanklik op die nuwe plan vir die spoorlyn aangedui nie, maar is op ‘n verdere voorstel ingesluit. Een van die redes wat opmeter Hector Shaw aangevoer het, is die beskikbaarheid daar van water vir die stoomlokomotiewe.
“Aangesien hier ‘n aansienlike stuk gelyk grond is en ‘n goeie watervoorraad, beskou ek dit as ‘n baie wenslike plek vir ‘n stasie, aangesien dit geleë is in ‘n posisie waar heelwat verkeer van die vrugbare distrik rondom verwag kan word.”

Die totale koste vir die spoorlyn tussen Malmesbury en Piketberg, via Hooikraal, is toe volgens rekords beraam op £236 731.
‘n Paar jaar later (1889) is die mosie in die Volksraad ter tafel gelê vir die lê van die spoorlyn en die koste was toe £287 000. Dit is egter nie aanvaar nie.
Met die bou van ‘n nuwe kerk (hoeksteen gelê in 1894) het boere muilwaens beskikbaar gestel om boumateriaal al die pad op Malmesbury se stasie te gaan haal.
Uiteindelik het die regering in 1898 die bou van die spoorlyn van Malmesbury tot by Eendekuil goedgekeur.
In daardie jare het dit volgens rekords vier ure geneem om die enkelrit van Moorreesburg tot op Malmesbury af te lê.
Daar is in 1899 begin met die lê van die nuwe spoorlyn. Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het egter ‘n geweldige impak gehad en die projek vertraag.
Die spoorlyn tot op Moorreesburg is toe laat in 1901 geopen terwyl die gedeelte tot op Eendekuil die volgende jaar voltooi is.
Nadat die spoorvervoer aanvanklik minder was as verwag, het goeie oesjare van later jare die tonnemaat graan wat van Moorreesburg weggestuur is, aansienlik laat styg – selfs heelwat meer as dié wat van Malmesbury gestuur is.