Só kan nuwe Swartlandtariewe jou sak raak
Swartlandse inwoners kan verhogings van tussen 4,9% en 12,72% vir die onderskeie dienste op hul munisipale rekeninge verwag, indien die konsepbegroting van die munisipaliteit vir die volgende finansiële jaar (Julie ’25 tot Junie ’26) later goedgekeur word.

Die konsepbegroting is vandeesweek ter tafel gelê. Die burgemeester moet dit in terme van wetgewing ten minste 90 dae voor die aanvang van die begrotingsjaar doen.
Eiendomsbelasting sal volgends die beplanning met onderskeidelik 4,9% vir wooneiendom en 6,9% vir besigheidseiendom styg.

Die beoogde nuwe tarief vir residensiële eiendom sal dan 0,5623 sent per jaar beloop vir elke R1 waarteen die eiendom gewaardeer is. Die tarief vir sake/nywerheidpersele is 0,9374 sent en vir leë grond beloop dit 0,8415 sent. Landbougrond/eiendom word teen ‘n 25%-koers aangeslaan en die tarief beloop dus 0,1406 sent.
Die beplande stygings vir vullisverwydering beloop 11% en dié vir riool beloop 5,9%.
Volgens die plan sal die tarief vir water gemiddeld met 5,6% styg vir die eerste 20kl en daarna met 4,9% vir residensiële verbruikers en 5,9% vir besighede en sportklubs.
Luidens die konsepbegroting sal elektristeit verbruikers in die nuwe jaar 12,72% meer uit die sak jaag. Dit is egter onderhewig aan Nersa se goedkeuring.

Die munisipaliteit se (konsep)begrote bedryfsuitgawes vir die nuwe jaar sal tot R1 446,976 miljoen styg. Dit is ‘n geraamde 19,5% meer as die huidige R1 210,971 miljoen.
Die geraamde bedryfsinkomste sal volgens die konsepbegroting styg van R 1 475,819 miljoen tot R1 586,839 miljoen.
Die totale salarisbegroting sal na raming van R 357,996 miljoen tot R 380,994 miljoen styg.

Aan die inkomstekant sluit die konsepbegroting vir 2025/26 die volgende in:
Inkomste uit
Boetes: R 38,363 miljoen
Eiendomsbelasting: R212,727 miljoen
Rente verdien op eksterne beleggings: R 81,529 miljoen
Dienstefooie gehef op
Elektrisiteit: R 552,606 miljoen
Water: R 105,309 miljoen
Riool: R 63,790 miljoen
Vullisverwydering: R 46,467 miljoen.

Aan die uitgawekant sluit die konsepbegroting vir 2025/26 die volgende in:
Uitgawes aan
Salarisse/werknemerverwante uitgawes: R 368,365 miljoen
Vergoeding van raadslede: R 12,630 miljoen
Afskryf van slegte skuld: R 41,008 miljoen.
Die totale konsepkapitaalbegroting vir 2025/2026 beloop R 279,020 miljoen.

Skriftelike kommentaar of vertoë moet die munisipaliteit bereik voor of op Woensdag 30 April 2025 om die 12:00.
*Die oorsigverslag vir 2023/2024 is ook vandeesweek by die raadsvergadering ter tafel gelê.
Luidens die verslag behels “skoon administrasie effektiewe spanwerk tussen alle departemente binne die munisipaliteit, die regte houding van sy werksmag en om personeel aanspreeklik te hou vir hul area van verantwoordelikheid.
“Die Swartland Munisipaliteit onderskryf steeds hoë vlakke van goeie bestuur en skoon administrasie.”
Die verslag lui ook dat die evaluering van die 2023/2024 se jaarlikse prestasie op 18 September 2024 deur die evalueringspaneel gedoen is. Dié paneel “is aangestel in ooreenstemming met die prestasie-ooreenkomste wat aangegaan is met die munisipale bestuurder en direkteure.”
Die prestasie- en ontwikkelingsbeleid is vroeër “gewysig om in lyn te wees met munisipale prestasieregulasies” en is so deur die raad goedgekeur.

In terme daarvan kom die munisipale bestuurder en direkteure in aanmerking vir bonusse tot ‘n maksimum van 14% na gelang van hul prestasie-evaluering.
“Die resultate van die prestasie-evaluering op 18 September 2024 is soos volg:
Munisipale Bestuurder: 167,0% – gelykstaande aan ‘n bonus van 14%.
Direkteur: Finansiële Dienste: 165,58% – gelykstaande aan ‘n bonus van 13,67%.
Direkteur: Korporatiewe Dienste: 164,0%- gelykstaande aan ‘n bonus van 13,29%.
Direkteur: Ontwikkelingsdienste: 164,36% – gelykstaande aan ‘n bonus van 13,38%.
Direkteur: Siviele Ingenieursdienste: 163,50% – gelykstaande aan ‘n bonus van 13,18%.
Direkteur: Elektriese Ingenieursdienste: 164,85% – gelykstaande aan ‘n bonus van 13,50%.
Direkteur: Beskermingsdienste: 162,18% – gelykstaande aan ‘n bonus van 12,87%.”
