Jong spelers breek deur – Lillies-breier
Dit is verblydend om te sien hoe soveel jong spelers hul deurbraak dié seisoen maak.
Só gesels Denver Koopman, die hoofafrigter van Abbotsdale se rugbyklub, oor die goeie begin wat hulle vanjaar in die Boland Grootuitdaag (Swartlandstreek) beleef.

Lillies blom nog behoorlik en spog ná die eerste vyf rondes as voorloper met volpunte op die liga se punteleer. Hulle is steeds onoorwonne met vyf bonuspunte vir ‘n totaal van 25.
“Rynard Adonis en Claywin Jacobs was nog onlangs op skool en speel voortreflike rugby tans vir ons eerstespan.
“So ook is Conray Koopman wat verlede seisoen in die Boland se o.21-groep was en Dowan Mahoney op vleuel van ons jongmanne wat dié seisoen die oog gaan vang.”
Ook die toevoeging van Dual Erasmus en Wilhelm Williams tot die afrigtingspan, bring nuwe idees en ‘n nuwe dimensie. Nog ‘n toevoeging was die terugkeer van Abbotsdaler Dilano Baartman wat voorheen sy rugby by Never Despair gespeel het. Hy bied met sy veelsydigheid verskeie opsies vir die keurders.

Lillies het Saterdag hul vyfde agtereenvolgende sege behaal toe hulle op Abbotsdale vir Mamre met 33-18 geklop het.
Die besoekers was in een stadium met 13-10 voor ná ‘n briljante drie.
Nadat die telling later 18 elk was, het Lillies se afrigters in die 52ste minuut hul troefkaart gespeel en die bank leeggemaak. Die impak was bykans onmiddellik.
Mamre kon nie weer punte aanteken nie en die tuisspan het die oorhand gekry.
Vir Abbotsdale was Donray Manual die Speler van die Wedstryd.

In nog ‘n kragmeting in die liga het die enigste ander onoorwonne span, Wesbank, dié status behou en die besoekers van Riebeek-Wes, Good Hopes, met 13-8 geklop.
Met die omdraaislag was Good Hopes nog met 8-5 voor.
Wesbank is tans steeds tweede op die punteleer met 22 punte.
Darling het opgeskuif in die derde plek op die punteleer met 18 punte nadat hulle Saterdag op hul tuisveld hul derde oorwinning van die seisoen behaal het. Die besoekers van Never Despair moes met 32-24 die knie voor die melkboere buig.

Villagers Wittewater het hul tuiswedstryd teen Saron met 19-13 verloor en tot die vierde plek afgeskuif met 15 ligapunte.
Hulle word gevolg deur Good Hopes (14), Saron (14), Never Despair (13) en Mamre (12).
Porterville het op hul tuisveld met 36-27 met die besoekers van Moorreesburg afgereken en dié twee spanne lê lans met 10 en 8 ligapunte onderskeidelik in die 9de en 10de plekke.
Die ander kragmeting wat op Riebeek-Kasteel sou plaasvind tussen Riebeek United en Voorberg, is weens onvoorsiene omstandighede tot 31 Mei uitgestel.

Die ligabepalings vir die komende naweek is (tuisspanne eerste):
Darling teen Moorreesburg;
Good Hopes teen Porterville;
Never Despair teen Abbotsdale;
Saron teen Riebeek United;
Villagers Wittewater teen Wesbank en
Voorberg teen Mamre.
