Hoe gemaak

Hoe gemaak met … grasperke in winter

Kom ons praat grasperksorg vir die winter:
Baie tuiniers sukkel met hul grasperke in die koue maande weens te veel skadukolle. Gewone Kikoejoe- en Bermuda-grasperke (die kweek-tipe), groei nie goed in die skadu nie.
Daar is ander soorte gras wat in die skadu sal groei en met saad gesaai kan word – maar dit is grassoorte wat nie kort gesny kan word nie. By dié soorte moet altyd ‘n blaarlengte van 3cm tot 5cm gelaat word.
Daar is twee soorte gras wat in die skadu sal groei wat plat op die grond kruip, naamlik Buffels- en Berea-gras (ook bekend as LM).
Dié twee soorte gras kan ook redelik goed son hanteer. Die meeste variëteite gras sal beter groei in die skadu indien dit nie so kort gesny word nie. Dit beteken dat jy jou grassnyer se lemme ‘n knip of twee hoër moet stel sodat daar meer blaarlengte oorbly vir fotosintese.

Voed die grasperke in die winter met ‘n 2:3:2- of 2:3:4-kunsmis sodat die wortelstruktuur versterk kan word vir die warmer maande wat later volg.
Moenie nou ‘n voeding met ‘n hoë stikstof gebruik nie, want grasperke groei nie in die winter baie aktief nie.
Waak daarteen om jou grasperk hierdie tyd van die jaar te kort te sny. Sny nou eerder ‘n knip of twee hoër en sny ook liefs net elke tweede week.
Grasperke kan nou ‘n bietjie met ‘n tuinvurk of spykerroller deurlug word om die kors te breek.
Regdeur die jaar word die grond geweldig baie gekompakteer, wanneer kinders of troeteldiere daarop speel, of wanneer ‘n motor daarop gewas word.
Daarom is dit belangrik dat ‘n grasperk gereeld deurlug word.

Belangrik:
Hou die grasperk dop vir swamsiektes. Soms vorm daar klein bruin kolle op die blaar van die gras, ‘n vorm van roes. Dit kan behandel word met ‘n swammiddel.
Waak ook teen die hekse-ring (dollar-spot). Dit is sirkels wat op die gras ontstaan, eers klein, maar dit word gou al groter.
Dit kan behandel word, maar dit is belangrik om vinnig op te tree teen die hekse-ring. Hoe gouer dit aangespreek word, hoe gouer kan dit herstel.
Neem gerus ‘n voorbeeld of ‘n goeie foto van die probleem saam na jou plaaslike kwekery toe om die regte medisyne te kry. Met gratis advies daarby!
Onkruidbeheer is ook belangrik, maar meer daaroor ‘n ander keer.
Plante wat nou geplant kan word om mooi kleur in die laat-winter en lente te gee, is die volgende:
1. Primulas en Cinerarias en Begonias vir koeler skadukolle.
2. Vir die sonnige kolle is daar Pansie’s (Gesiggies), Violas, Marigold (Dwergafrika-nertjies), Bokbaaivygies, Lobelias, Alyssum (Heuningblom), Foxglove en Sierkool (baie mooi!).
3. Moenie die Callendula (Gousblom) vergeet nie..
Daar is ook nog ‘n magdom mooi klein en medium struikies wat mooi kleur kan gee: Angelonia, Gaura, Durantha, Westringia, La-vender, Heliotroop, Cuphea, Salvia, Verbena ensovoorts.
Groete,
George Retief,
Malmesbury Kwekery

(Tuinbourubriek uit dié courant se argief)

Leave a Reply

error: Content is protected !!