4 Spanne rus met afskop van Grootuitdaag se 2de helfte
Die tweede helfte van die rugbyseisoen in Boland se Grootuitdaag skop dié naweek af.
Die eerste helfte in die Swartland was propvol verrassings met veral Villagers Wittewater wat behoorlik die wenkbroue laat lig het.

Twee spanne, Riebeek United en Voorberg, het die afgelope Saterdag eers hul ligaverpligtinge vir die eerste ronde afgehandel nadat hul wedstryd vroeër uitgestel moes word. Riebeek United het die kragmeting met 40-21 gewen.
Beide spanne kry die komende naweek ruskans en hul wedstryde teen onderskeidelik Porterville en Abbotsdale is geherskeduleer vir 23 Augustus.


Intussen kom die huidige ligavoorloper, Wesbank (wat verlede jaar halfpad deur die seisoen in die derde plek was), in ‘n wegwedstryd te staan teen Saron (tans derde met 9 ligapunte agter Wesbank).
Good Hopes wat in die middel van verlede jaar in die tweede plek was, lê tans vierde en speel Saterdag weg teen Mamre (tans 5de).
Villagers Wittewater is in hierdie stadium in die sesde plek, vier plekke hoër as ‘n jaar gelede. Hulle speel Saterdag gasheer vir Darling (tans 9de en verlede jaar 5de) wat nie die beste van seisoene beleef nie. Die melkboere sal egter die bordjies wil verhang nadat hul in die eerste helfte vanjaar tuis teen Villagers vasgeval het.

In die ander Swartland-kragmeting van die naweek kom Never Despair (8ste) tuis op Alfastraat te staan teen Moorreesburg (11de). Beide spanne lê in hierdie stadium laer as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
*Daar was verlede jaar 11 spanne in die liga en vanjaar is daar 12.
