WDM se padwerke van hoë gehalte – Simmers
Persverklaring
Die Wes-Kaap se LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het die Weskus besoek as deel van sy reeks streeksvergaderings om belanghebbendes oor die nuwe provinsiale paaieleweringsmodel in te lig.
Die besluit om die bestaande paaieleweringsmodel via distriksmunisipaliteite te herevalueer, is gebaseer op ’n omvattende vyfjaarassessering van waarde vir geld en werkverrigting.

Die Weskus Distriksmunisipaliteit het die afgelope aantal jare op ’n agentskapsbasis en met befondsing van die Wes-Kaapse regering, verantwoordelikheid geneem vir die bou en instandhouding van provinsiale paaie in die streek.
Simmers het die munisipaliteit se werk geloof en gesê: “Die Weskus Distriksmunisipaliteit lewer werk van hoë gehalte, bereik hul jaarlikse teikens en bied uitstekende waarde vir geld. Ek gaan dus nie die funksie terugneem na die departement nie. Die status quo sal bly, maar daar sal ’n kontraktuele herevaluering plaasvind, asook meer gestruktureerde monitering en evaluering.”

Onder die suksesse van hierdie vennootskap tel die heropbou van die 18 km-lange teerpad tussen Stompneusbaai en Vredenburg, asook die spoedige herstel van die Citrusdal-toegangspad wat deur vloede vernietig is. ’n Betroubare padnetwerk is van kardinale belang vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en verseker toegang tot markte vir verskeie goedere wat in die streek geproduseer word.

Raadsheer Boffie Strydom, uitvoerende burgemeester van die distriksmunisipaliteit, het die padspan geloof en gesê: “Oor die afgelope paar jaar het die padnetwerk ernstige skade opgedoen, maar die distriks-padspan het die uitdaging aangegryp en ver bo hul daaglikse verantwoordelikhede presteer.
“Ons was nog altyd trots op wat die span bereik, maar vandag kry hul harde werk eksterne bevestiging” het hy bygevoeg. – (Persverklaring- WDM)
