Nuwe planne vir Toerisme; ook vir befondsing
Swartland Toerisme (ST) wil nuwe innoverende planne in werking stel nadat hulle pas ‘n ooreenkoms vir die volgende drie jaar met die Swartland Munisipaliteit gesluit het.
Naas die herlewing van die Olyffees (nou Swartland Olyffees in samewerking met SA Olive), is ST in gesprek met voornemende korporatiewe borge om ook by die streek betrokke te raak. Só vertel die voorsitter, Ashley Stone.

dié courant het met hom gesels oor die volgended drie jaar. Stone het verlede jaar die voorsitterstoel oorgeneem en voeg by hy het vanuit die staanspoor toe hy as direkteur aangestel is, die befondsingsmodel “verwarrend” gevind, onder meer omdat die maatskappy se volhoubaarheid grotendeels afhang van befondsing deur die Swartland Munisipaliteit.
Swartland Toerisme as nie-winsgewende maatskappy het drie jaar gelede tot stand gekom nadat die Swartland Munisipaliteit die vorige bedeling afgeskaf het. Die munisipaliteit was sedertdien steeds die hoofbron van inkomste met ‘n diensleweringsooreenkoms.

Die owerheid het egter verlede jaar hul befondsing op dié basis gestaak en ST gedwing om vir die oorblywende gedeelte van die 3 jaar-termyn te tender om die balans van die fondse te ontsluit. Die termyn verstryk teen die einde van Junie en die nuwe 3 jaar-ooreenkoms is nou, ná ‘n nuwe tenderproses, gesluit.
Swartland Toerisme is met die nuwe tender nou ook gedwing om vir BTW te registreer met ‘n netto-korting van 13% op dit van hulle van die munisipaliteit ontvang.
“Die Swartland is ‘n wêreldklas bestemming met onder meer wêreldklas rugbyspelers en wêreldklas wyne wat gereeld top-toekennings ontvang.

“Ons praat met groot banke oor langtermynborgskappe en hulle is baie ontvanklik. Ons gaan beslis korporatiewe borge bekom.” sê Stone.
Hy sê naas korporatiewe borge, gaan hulle ook die lidmaatskap begin differensieer vir addisionele inkomste.
Volgens hom betaal 50% van lede tans R500 per jaar. “Dit is R41,67 per maand – die koste van een koffie. Dit is nie volhoubaar nie.”
Lede sal voortaan dan kan kies op watter vlak hulle wil aansluit met dienooreenkomstige voordele.

Swartland Toerisme het onlangs hul webtuiste en dié van die onderskeie dorpe bygewerk en ook pas hul inskakeling op die MapMe-platform bekendgestel.
Laasgenoemde, sê Stone aan dié courant, is na sy “mening ‘n ingrypende rigtinggewende verandering op verskeie vlakke”.
“Ons noem dit Google Maps op steroïede. Dit is ook baie gebruikersvriendelik.”
MapMe bied legio moontlikhede om lede op verskillende vlakke ‘n interaktiewe teenwoordigheid op die internet te gee met onder meer multimediaskakels. Daarmee kan besoekers dan padaanwysings kry na die spesifieke lid en belangrike bestemmings vir toeriste asook inligting van “wat die onderneming bied en ‘n beter voorsmakie van wat hulle daar kan verwag”.

Geleenthede wat in die streek plaasvind asook spesifieke roetes kan byvoorbeeld op die interaktiewe kaarte van elke dorp gelaai word vir selfgedrewe besoeke, sê Stone.
Gaste sal voortaan ook direk op ‘n skakel kan druk om ‘n bespreking te doen. Dit bied weer ‘n addisionele inkomstebron vir Swartland Toerisme wat ‘n 3%-besprekingsfooi sal ontvang.
“Die sleutel is om meer inkomste te genereer en op dié manier ons dienste verder uit te bou.”
Swartland Toerisme het vier kantore – op Yzerfontein, Darling, Malmesbury en Riebeek-Kasteel – wat die streek se dorpe bedien. Elke kantoor het sy eie beampte en die oorhoofse bestuurder van die streek is Ann Heyns. Haar kantoor is ook op Malmesbury.
www.swartlandtourism.co.za
