Nuwe Swartlanders RAAF by Olyffees ’25
Die gewilde musiekgroep, RAAF (Lourens en Esté Rabé) voorheen bekend as Bottomless Coffee Band, het pas ‘n huis op Riebeek-Kasteel gekoop en sal in September op beide dae van die nuwe Swartland Olyffees op die plein op dié dorp optree.
Só vertel Ashley Stone, voorsitter van Swartland Toerisme, aan dié courant.

Die Rabés het die groot spaanse huis, Villa Marrakesh, wat voorheen aan die bekende kunstenaar Hannetjie de Clercq behoort het, gekoop. Nóg twee bekendes in kuns-, kos- en argitekkringe wat hulle in die Riebeekvallei gevestig het, Hardy Olivier en Louis Jansen van Vuuren, het tot onlangs daar gewoon voor hulle na hulle nuwe huis, EcoSpace, getrek het.
Die Olyffees word deur Swartland Toerisme aangebied saam met SA Olive en die organiseerders hoop om op elkeen van die twee dae ongeveer 1500 besoekers te lok.
Stone sê hulle het reeds borgskappe van ongeveer R300 000 vir die Olyffees op 27 en 28 September vanjaar bekom.
Naas nóg vermaak sal gaste ook die olyfprodukte van plaaslike olyfprodusente kan proe saam met dié van besoekende produsente waaronder Tokara en De Rustica.

Die bekende Sjef Mynhardt Joubert, voorheen die eienaar van Bar Bar Blacksheep in Short Street op Riebeek-Kasteel wat later medewenner was van Kokkedoor, sal kookdemonstrasies doen.
Verskeie wynprodusente se wyne sal ook beskikbaar wees en Pleinstraat sal ir die duur van die fees toe wees met kosstalletjies en kostrokke.
Die feesterrein sal elke dag van 10:00 tot 17:00 oop wees waarna gaste van die plaaslike restaurante kan besoek.
Daar is verskillende kaartjiepryse, onder meer ‘n BBP-pakket.
Inwoners van die Swartland kry tot 30 Junie ‘n korting op die gewone R350-toegangskaartjies @R250. Koop jou kaartjie direk by die toerismekantoor op Riebeek-Kasteel om dié afslag te kry.
