Agri/BusinessLatest

PNA Malmesbury se eienaars groet ná 25 jaar

Ná net duskant 25 jaar het die laaste van die oorspronklike private winkeleienaars in die De Bron-sentrum op Malmesbury pas die aflosstokkie oorhandig.
Christo en Marianne Leibbrandt het PNA Malmesbury verkoop aan nuwe eienaars wat talle ander PNA-winkels besit.
“Dit is met dankbaarheid wat ek vir die gemeenskap wil sê dankie vir al die jare se ondersteuning. Ek wil ook die personeel oor die jare bedank vir hulle werk,” sê Christo in ‘n gesprek met dié courant.
“Ek is baie bly ek verkoop die plek aan Chris van der Merwe.
“Die diens sal net verbeter. Ek gee die winkel oor in goeie hande. Eintlik baie beter hande.”

Saam met Christo Leibbrandt (derde van links), wat pas die PNA Malmesbury verkoop het, is die personeel Sorita, Sodelia, Estelle, Quinita en Jenieca.

Leibbrandt wat voorheen in KwaZulu-Natal die streekbestuurder was vir Sanlam, het aanvanklik sedert 1997 saam met Marianne die PNA in die Fairbridge-winkelsentrum in Brackenfell gehad.
Toe die De Bron-sentrum in 2000 in Malmesbury geopen het, het hulle die nuwe PNA daar oopgemaak en later van tyd die winkel in Brackenfell gesluit.

Die De Bron-sentrum vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar. Dit is destyds deur die Atterbury-groep ontwikkel en in 2004 aan die Amrichprop-eiendomsgroep verkoop.
Hulle het die sentrum intussen twee keer vergroot en vernuwe.
Van der Merwe, ‘n oud-apteker, sê hy het in 2000 “die pille vir boeke en skryfbehoeftes verruil”.
“Ons is ‘n hegte familiebesigheid. My oudste seun en sy vrou is betrokke by die besigheid. My vrou het die kunsafdeling in die PNA-groep gebring. Deesdae hou sy net ‘n oog oor ons kunsafdeling en geniet haar tyd saam met die kleinkinders. “

Hy het sy eerste PNA-winkel in 1996 in die Strand oopgemaak.
Sedertdien het hy verskeie bygevoeg – 4 winkels in die Somerset-Wes-area met ‘n 5de een wat die 13de Junie oopmaak; 2 in Stellenbosch; 2 in Hermanus; 1 in Swellendam; 1 in Robertson
en 3 in Namibië met ‘n 4de een wat binnekort oopmaak.
Gepols oor waarna Swartlanders kan uitsien in die toekoms by PNA Malmesbury sê hy: “Vars produkreekse, nuwe reekse, kompeterende pryse en spesiale aanbiedings op ‘n gereelde basis.”
Hy voeg by dat al die bestaande personeel in die winkel aanbly.

Leave a Reply

error: Content is protected !!