EntertainmentLatest

Buite-ekspo’s bly gewild

Die kykNET Buite-ekspo’s is nou reeds ‘n instelling op buitelugliefhebbers se kalender in die Wes-Kaap, Limpopo en ook die Suid-Kaap.
Dié gewilde ekspo word reeds vir 15 jaar om die beurt in die Wes-Kaap en by Bela-Bela in Limpopo en die laaste paar jaar ook by Hartenbos aangebied.

Duisende besoekers het weer die afgelope naweek na die Sondela Natuurreservaat gestroom vir dié jaarlikse leefstyl- en buitelugfees.
Oor ‘n raps meer as twee maande is dit weer tyd vir die Buite-ekspo by Hartenbos (3 tot 5 Oktober) en dan volg die Wes-Kaap weer van 13 tot 15 Maart aanstaande jaar.
Intussen bied Trio Events weer op 1 en 2 November die South African 4×4 & Outdoor Show Wes-Kaap by Ysterplaat aan en daar is ook die SA Bakkie- & SUV-fees wat van 29-31 Augustus by Sondela plaasvind.

Die afgelope Saterdag was dit ‘n gegeurde affêre toe van kykNET se gewilde akteurs hul voorskote aangetrek het vir die Jimmy’s Sauces Bou-‘n-Burgerkompetisie.
Megan Troskie (Thalia in Binnelanders), Mandi Baard (Theresa in Diepe Waters), Gerald Steyn (Dr. Uys in Binnelanders) en Stiaan Bruwer (Henry in Diepe Waters) het burgers gebou saam met besoekers uit die gehoor.

Die pare het meegeding om die mees indrukwekkende burgertoring te bou.
Diepe Waters het die eerste plek ingepalm toe Stiaan Bruwer en sy spanmaat, Surita Kruger, die ander uitgestof het met hul wenburger. Mandi Baard en haar spanmaat, George Cary, het ’n trotse tweede plek behaal met hul bobaas “roosterkoekburger”.

Leave a Reply

error: Content is protected !!