Saron tans voor; Wesbank het ‘n ekstra wedstryd
Met nog ‘n wedstryd wat die naweek uitgestel is in die Swartlandstreek van Boland Rugby se Grootuitdaagliga, lees die punteleer maar soos ‘n knit one slip one.
Die wedstryd van die ligavoorloper, Wesbank, en Voorberg is geherskeduleer tot 6 September.

Saron het nou ná hul sege van die naweek in die eerste plek ingeskuif. Wesbank tans tweede (net een ligapunt agter Saron), het dus die ekstra wedstryd teen Voorberg (wat vanjaar nog nie een wedstryd kon wen nie) in die sakkie.
Saron het Moorreesburg Saterdag met 39-27 geklop.
Abbotsdale wat tans nog derde lê, het twee ekstra wedstryde in die sakkie. Lillies het Saterdag na Darling gereis en die Melkboere op die Gabriel Pharoah-veld met 22-33 geklop.

Die tuisspan het eerste punte aangeteken en met 7-0 voorgeloop voor die besoekers sake gelyk kon maak en daarna die voortou geneem het.
die rustydtelling was 12-19 in die besoekers se guns.
Lillies het die voorsprong tot 12-33 gerek voor die tuisspan weer twee keer gaan druk het om die eindtelling tot 22-33 te laat aanrol. Abbotsdale het 5 drieë in die kragmeting gedruk.

In die ander kragmetings van die naweek het Mamre (4de op die punteleer) hul wegwedstryd teen Never Despair (tans 8ste) met 27-30 gewen.
Good Hopes was gasheer in die derbykragmeting teen Riebeek United. Die tuisspan was met 39-29 baas.
Villagers Wittewater het besoek ontvang van Porterville. Die kragmeting het met 35-35 gelykop geëindig. Dié twee spanne lê tans onderskeidelik 5de en 6de op die punteleer. Porterville het egter nog twee meer wedstryde om te speel.
Die ligabepaling vir die komende naweek (tuisspanne eerste) is:
Porterville teen Darling
Abbotsdale teen Wesbank
Saron teen Good Hopes
Moorreesburg teen Riebeek United
Mamre teen Villagers Wittewater en
Never Despair teen Voorberg
