LatestSports

Voorlopers in pylvak vir plek in Top 12

Al is die kompetisie nou in die pylvak, is dit nog geen uitgemaakte saak wie die Swartland vanjaar in Boland Rugby se Grootuitdaag Top-12 gaan verteenwoordig nie.
Naweek na naweek word uithalerrugby opgedis en die afgelope Saterdag was weer geen uitsondering nie.

Die groot derby op Abbotsdale waar Lillies die Koringboere van Wesbank ontvang het, het aan alle verwagtinge voldoen met twee van die Boland se beste spanne wat tot die einde bly veg het.
In die twee spanne se kragmeting vroeër die seisoen het Wesbank op hul tuisveld met 26-20 gewen.
Abbotsdale het egter Saterdag die bordjies verhang en met 40-36 as oorwinnaars van die veld gestap.
Soos sake nou staan, is daar op papier nog 5 Swartlandse spanne wat die Top 12-kan haal, maar dit is net op papier in scenarios waar van die voorlopers al hul oorblywende wedstryde verloor.
Saron, tans bo-aan die punteleer, het nog twee wedstryde oor en kan met vyf ligapunte uit elke wedstryd op hoogstens 88 ligapunte eindig.
Hulle kom komende naweek in ‘n wegwedstryd teen Mamre te staan en laasgenoemde (tans in die vierde plek) sal alles in die stryd werp om hul kanse lewend te hou. Saron moet ook nog weg speel teen Never Despair.

Mamre het nog drie wedstryde oor. Naas Saron, is daar nog Moorreesburg (weg) en ‘n tuiswedstryd teen Abbotsdale. Lillies (tans derde) sal gewis ‘n harde neut wees om te kraak.
As Mamre in elke wedstryd 5 ligapunte kry, kan hulle op 84 punte eindig.
Wesbank, tans tweede, het nog drie kragmetings (Darling, Riebeek United en Voorberg) oor en as hulle volpunte in elke oorblywende wedstryd verdien, kan die Koringboere aan die einde 90 ligapunte hê.
Dieselfde geld vir Abbotsdale. Hulle het nog vier wedstryde en kan ook op hoogstens 90 ligapunte eindig. Hulle moet nog kragte meet met Good Hopes (tuis), Porterville (weg), Voorberg (weg) en Mamre (weg).
Porterville is tans in die 5de plek en kan op hoogstens 78 punte eindig. Saron, tans in die eerste posisie, het reeds 78 punte met twee wedstryde oor. Wesbank het tans 75 punte, Abbotsdale 70 en Mamre 69.
Die ander uitslae van die naweek was:
Saron 20, Good Hopes 16;
Never Despair 53, Voorberg 24;
Porterville 28, Darling 0;
Mamre 46, Villagers Wittewater 19;
Riebeek United 38, Moorreesburg 34.

Die komende naweek se bepalings (tuisspanne eerste) is:
Wesbank teen Darling;
Voorberg teen Porterville;
Abbotsdale teen Good Hopes;
Villagers Wittewater teen Moorreesburg;
Riebeek United teen Never Despair;
Mamre teen Saron

Leave a Reply

error: Content is protected !!