Swartland se Top 12-prentjie begin deurskemer
Met slegs een oorblywende ronde en vir sommige spanne nog een of twee uitgestelde wedstryde, begin die prentjie vir Swartland se moontlike verteenwoordigers in die Boland Top 12 al duideliker word.
Dit lyk, te midde van kontroversie en ‘n ondersoek na moontlike knoeiery, of Saron straks net nie genoeg gedoen het om in een van die boonste twee plekke in die Swartland te eindig nie. Hulle kan hoogstens op 84 punte eindig as hulle komende Saterdag hul wegwedstryd teen Never Despair met ‘n bonuspunt wen.

Wesbank darenteen het nog twee wegwedstryde oor en gemeet aan Riebeek United en Voorberg se vertonings tot dusver, kan die Koringboere in elk vyf ligapunte verdien om op 90 punte te eindig.
Abbotsdale moet nog drie wegwedstryde speel, waarvan Mamre moontlik die moeilikste een kan wees, maar Porterville is ook nie maklik op hul tuisveld nie. Die ander is teen Voorberg wat tot dusver vanjaar nog nie een wedstryd kon wen nie. Indien Lillies in twee van hul oorblywende wedstryde met 5 ligapunte in die sakkie huiswaarts keer, kan hulle op 85 te staan kom. Dit sal genoeg wees vir die tweede plek. As hulle al drie wen, sal hulle met 90 ligapunte eindig.

Sou Mamre (tans 4de) beide hul oorblywende wedstryde (teen Moorreesburg en Abbotsdale) wen, sal hul hoogstens 83 punte hê. Dit is waarskynlik ook net te min om vir die Top-12 te kwalifiseer.
Die volledige uitslae van die afgelope Saterdag se wedstryde in die Swartlandafdeling van die Grootuitdaag (tuisspanne eerste) is:
Abbotsdale 43, Good Hopes 5;
Mamre 25, Saron 20;
Riebeeck United 12, Never Despairs 28;
Villagers Wittewater 20, Moorreesburg 20;
Voorberg 0, Porterville 26;
Wesbank 48, Darling 26.
Die bepalings vir Saterdag 16 Augustus (tuisspanne eerste):
Darling teen Voorberg;
Good Hopes teen Villagers Wittewater;
Moorreesburg teen Mamre;
Never Despair teen Saron;
Porterville teen Abbotsdale;
Riebeek United teen Wesbank.
