Swartlandskou om die draai – 3 tot 6 September
Die wiele rol al sedert verlede jaar vir vanjaar se Swartlandskou – jaarliks een van die enkele grootste geleenthede in die streek.
Hierdie is nie net ’n landbouskou nie, dit is ’n vier dae lange ervaring propvol besigheidsgeleenthede, wêreldgehalte implemente-uitstallings en -vertoners, interaktiewe uitstallings, lewende demonstrasies, gesinsvermaak, ’n splinternuwe kinderpretarea, markstalletjies, ’n troetel(dier)plaas, restaurante en die wyntuin wat sorg vir ’n warm en feestelike atmosfeer.
Só sê die organiseerders in ‘n persverklaring.

“Vanaf Woensdag 3 tot Saterdag 6 September word Swartlandskou vir die 91ste keer aangebied by die skougronde op Moorreesburg.
“Verskeie kleinveekampioenskappe sal besoekers vanjaar weer bekoor, maar die groot trekpleister op Saterdag 6 September is die skaapskeerkampioenskap. Kom luister na Tinus du Plessis, Suid-Afrika se eie skaapskeerkoning en houer van nasionale en internasionale rekords.
Du Plessis het vroeër vanjaar saam met Aidan Copp van Nieu-Seeland ’n wêreldrekord opgestel vir die meeste 2-stand Merinolammers in 9 ure geskeer: ’n verstommende 970 lammers in totaal (Aidan 523 en Tienie 447). Tienie se 447 is boonop ook die SA rekord.

“Van Woensdag tot Saterdag word daar met 8 top-vleisbeesrasse meegeding om die gesogte titels van Senior Kampioen Bul, Senior Kampioen Koei en Opperste Raskampioen. Die Romagnola-ras sal vanjaar vir die eerste keer aan die Swartlandskou deelneem. Onder die ander rasse tel die Herefords, Simmentalers, Rooi Angus, Swart Angus, Santa Gertrudis, Charolais en Sussex.
“By die Jeugskou op Woensdag 3 September neem meer as 250 jongmense deel aan 16 dissiplines in die Wes-Kaap Kwalifiserende Streekskou. Nuwe afdelings soos Kulinêre Kuns, Fotografie en Suiwelbereiding voeg vars opwinding by. Swartlandskou het onlangs by Agri-Expo se kongres die toekenning ontvang vir Beste Jeugskou-aanbieder.

“Perdeliefhebbers kan uitsien na die Vlaamperd SA Kampioenskappe en die SA Saalperd Kampioenskap, terwyl die indrukwekkende wa-spanne van 8 wat jaarliks die belangstelling gaande het, weer die Saterdag in aksie sal wees.
“Die Damesdag op die Woensdag is ’n jaarlikse hoogtepunt met meer as 500 gaste wat ’n dag van inspirasie, mode, geselskap en heerlike kos geniet. Boys R Back gaan ons terugneem na die goue era van “boybands” in ‘n opwindende vertoning terwyl Lizz Meiring ons gaan vermaak met haar Die “Real Housewife” solovertoning.
“Kinders sal gaande wees oor die nuwe kinderarea vol prettige aktiwiteite en vermaak soos bungee trampoline, paintball, springkastele, trapkarre, en vele meer.
“Vanaf die Donderdagaand sorg gewilde kunstenaars vir topklas musiekvermaak. Musikante sluit in (Donderdagaand) Wynand en Chereé en DJ Louis van Lill; (Vrydagaand) New Horizon, Brendan Peyper en DJ Wico en (Saterdag) Step by Step-dansskool, MG Pro Voices, Chris Rain, Ruan Theron, Irene-Louise Van Wyk, Tamlyn Wessels, ONS, Chris Steyn, Danny Smoke en DJ Stevie.
“Nog ’n opwindende nuwe toevoeging vanjaar is die tentedorp kampakkommodasie by die skougronde vir feesgangers en uitstallers.

“Die gewilde landbou-oggend van die Vrydag dra vanjaar die tema: “Boerdery se Toekoms – Ons skei die koring van die kaf.” Sprekers soos Theo Vorster, prof. Johan Fourie, Tobias Doyer en JP Landman gaan besoekers inspireer en waardevolle insigte oor die toekoms van landbou deel.
“Sonder borge, vennote en donateurs sou ons nie die Swartlandskou vir 91 jaar aan die gang kon hou nie. Ons opregte dank aan elke liewe persoon wat deel is van ons suksesverhaal. Laastens: Aan ons gemeenskap, hulle speel ‘n onmisbare rol en is die hart van Swartlandskou.
Die Swartlandskou se organiseerders moedig besoekers aan om hul kaartjies betyds aanlyn te koop via TIXSA by https://tickets.tixsa.co.za/event/swartlandskou-moorreesburg
Vir meer inligting besoek ons webtuiste by www.swartlandskou.co.za “
Artikel verskaf deur Swartlandskou media
