Darling Cellars skitter op goue jongwynskou
Pulpit Rock buit ook trofeë
Die Swartland se jaarlikse jongwynskou het vanjaar ‘n rekordoes van 15 goue medaljes opgelewer.
Wynprodusente en verteenwoordigers van borge het vandag die toekenningsgeleentheid by Meerhof bokant Botmaskloof bygewoon.
Darling Cellars het groot geoes en nie minder nie as nege goue medaljes ingepalm.

Hulle het ook die Swartland se gesogte Absa Groot Kampioen-trofee verower met hul Sauvignon Blanc in klas 14. Dié wyn het ook aan hulle die Vinventions-trofee vir die Swartland se Kampioen Sauvignon Blanc besorg.
Dit was maar twee van die altesaam 13 trofeë wat vir die volgende jaar in die trofeekas langs die treinspoor daar by Mamreweg sal pryk.
Pulpit Rock het twee trofeë verower – die Wine Machinery-trofee vir die Kampioen Cabernet Sauvignon (Klas 56) en die
WPK/Kaap Agri-trofee vir die Kampioen Natuurlike Soetwyn (Chenin Blanc/Verdelho/Wit Muskadel in Klas 27).

Die res van Darling se trofeë-oes is die:
CJP Chemicals-trofee vir die Kampioen Chenin Blanc (Klas 08)
Enartis-trofee vir die Kampioen Ander Wit Kultivar (Chardonnay (gehout) – Klas 07)
Malmesbury Toyota-trofee vir die Kampioen Droë Wit Versnit (Sauvignon Blanc/ Sémillon
Klas 02)
Kobus Basson-trofee vir die Kampioen Pinotage (gehout – Klas 71)
Kotzé/Steyn-trofee vir die Kampioen Shiraz (Klas 74)
Porex SA-trofee vir die Kampioen Merlot (gehout – Klas 63)
Séan Nieuwoudt-trofee vir die Kampioen Cinsaut (Klas 58)
Santam Landbou-trofee vir die Kampioen Ander Rooi Kultivar (Durif – Klas 76)
Nexus-trofee vir die Kampioen Droë Rooi Versnit (Cabernet Sauvignon/Merlot -Klas 51)
SAIL-trofee vir die Kampioen Versterkte Wyn (Wit Jerepigo -Klas 80) en die
Vinochem-trofee vir die 5 Beste Inskrywings

Darling het 20 klasse in die Swartland gewen (dit kan met goud of silwer wees) asook nog twee goud wat nie klaswenners was nie.
Hulle is gevolg deur Pulpit Rock met sewe klaswenners en nog twee goud; Riebeek Valley Wine Co met 3 klaswenners, Allesverloren met twee klaswenners, Org de Rac met 1 klaswenner en Diemersdal (Slangkop) met twee goud.
Al die topwyne kom nou ook met hul puntetoekenning in die Nasionale Jongwynskou te staan teen dié van ander streke. Daar is vanjaar nasionaal altesaam 1491 wyne ingeskryf.
Die nasionale prysuitdeling vind aanstaande Vrydag op Robertson plaas. Dáár word meegeding om van die gesogte nasionale trofeë, waaronder die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofee vir die kampioenwyn en kelder met die vyf beste inskrywings onderskeidelik.

Voor sit Erica Crafford (Porex), Maggie Immelman (Darling Cellars), Luca Orselli (Enartis), Jaco Potgieter (gasspreker), Charlene Fortune (Santam) en Dewald Huisamen (Pulpit Rock).
By vandag se geleentheid was die gasspreker die bekende en ervare wynmaker en wyn- en wingerboukundige Jaco Potgieter.
Hy het staaltjies gedeel en vertel van die geskiedenis van die wynskoue en ontstaan van die nasionale jongwynskou en hoe belangrik dit deur die jare was en vandag steeds is.
Die jongwynskou is ‘n gulde geleentheid, het Potgieter gesê, vir wynmakers om kennis uit te ruil om die wynbedryf uit te bou.
Hy het ook die deelnemers geprys en aangemoedig om die jongwynskou uit te bou tot hoër hoogtes.
Jacques Theron van Riebeek Valley Wine Company was die seremoniemeester.
Hy het al die deelnemers bedank en ook twee nuwe deelnemers, Fynbos Estate en Meerhof, verwelkom.
“Daar was vanjaar van die meeste wyne in ‘n lang tyd in die Swartland ingeskryf.”
Theron het gesê die jongwynskou “is ‘n tegniese skou en ons almal kan iets hieruit leer”.
