NewsSports

Boland Top 12: Koringboere deur; Lillies veilig?

Mamre sal vir Abbotsdale in hul segetog van ses agtereenvolgende oorwinnings moet stuit EN die onwaarskynlike moet gebeur dat Voorberg die Lillies pluk en laat verwelk.

Slegs dan sal Abbotsdale nie saam met hul bure van Wesbank, wat reeds hul plek bespreek het, na die Boland se Top 12 deurdring nie.
Saron, tans derde, se veldtog vir die seisoen het Saterdag tot ‘n einde gekom toe hulle op Malmesbury met 22-20 teen Never Despair vasgeval het. Die besoekers het die seisoen op 80 punte afgesluit.

Abbotsdale het tans ook 80 punte, maar lê reeds op punteverskil bo Saron in die tweede plek en het nog die twee wegwedstryde teen Voorberg en Mamre oor. Hulle kan dus op 90 punte eindig. Lillies het Porterville die naweek op hul tuisveld met 27-33 gaan klop.
Wesbank is ná hul wegholsege Saterdag oor Riebeek United (74-13) steeds in die top-posisie op die podium met 85 ligapunte. Hulle moet ook nog ‘n wegwedstryd teen Voorberg speel en sal dus na alle waarskynlikheid op 90 kan eindig.

Mamre (tans vierde op 77 ligapunte) het ná hul sege Saterdag weg teen Moorreesburg (18-20) die een oorblywende tuiswedstryd teen Abbotsdale oor.
In een van die naweek se ander kragmetings het Good Hopes ‘n tuissege van 19-12 oor Villagers Wittewater behaal.
Darling en Voorberg het op Darling gelykop gespeel met 28 punte elk. Dit was Voorberg se eerste wedstryd van die seisoen wat hulle nie verloor het nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!