Swartland vaar uitstekend in Tim Atkin-verslag
Donovan Rall, ‘n lid van die Swartland Wyn- en Olyfroete, is pas in die nuutste Tim Atkin-wynverslag vir Suid Afrika as Wynmaker van die Jaar aangewys.
Oor Rall sê Atkin: “Hy verkry dikwels wyn van voorheen verwaarloosde wingerde wat hy help koester en bewaar en werk saam met plaaslike gemeenskappe om dit te doen.”

Callie Louw (Porseleinberg) wat verlede jaar Atkin se Wynmaker van die Jaar was, het vanjaar ‘n volle 100% gekry vir sy 2023 Porseleinberg Syrah wat ook as die Algehele Rooiwyn van die Jaar vir Suid-Afrika aangewys is.
“Die wyn kom van organiese wingerde wat in skaliegrond in die Swartland gevestig is.” Dit is die tweede keer dat Porseleinberg 100 punte ontvang het.
Nog een wyn (Alheit Vineyards se 2024 Alheit Magnetic North) spog ook vanjaar met ‘n 100 punte.
Kort op hul hakke is ‘n witwyn uit Sadie Family Wines se Ouwingerd-reeks. Die 2024 Skerpioen (Chenin Blanc en Palomino) het 99 persent verwerf. Die enigste ander wyn wat vanjaar 99 punte gekry het, is Boschkloof Wines se 2023 Epilogue Syrah.
Hierdie top-pryse is egter nie waar Swartland se sukses in die verslag eindig nie.

Riebeek Valley Wine Company is deur Atkin aangewys as Produsentekelder van die Jaar.
Kloovenburg se 2024 Village Red het die prys opgeraap as Beste Waarde Rooiwyn van die Jaar en Sadie Family Wines se 2024 Twiswind spog as Witwynvonds van die Jaar.
Vir die 2025-verslag het Atkin 2 000 plaaslike wyne van byna 400 produsente geproe oor twee besoeke aan die land.
Chenin Blanc was die sterpresteerder met 34 wyne wat 95 of meer behaal het, terwyl Shiraz die beste rooiwyn was met 21 wyne wat met 95 punte of meer kon wegstap.
Atkin skryf die toenemende sukses van Suid-Afrikaanse wyne onder meer toe aan die diepgaande en dikwels nie-monetêre verbintenis wat die mense hier teenoor die aarde voel.

Met talle van die top-wyne van die jaar afkomstig van gesertifiseerde Old Vine-wingerde, stel Atkin voor dat “hierdie ou erfeniswingerde deur die wet beskerm moet word, soos historiese geboue”.
Hy sê ook: “Nasionaal het die wingerdblokke tot net onder 88 000 ha gedaal en dit bly krimp te midde van dalende winsgewendheid en klimaatchaos.
“Dit het die afgelope dekade met byna 13 000 ha afgeneem. Tog reageer produsente op hierdie uitdagings met veerkragtigheid en innovasie en ‘n fokus op die hoër kant van die mark.”
