Die ovaalbal: vals verhewe of ‘n groot bydraer?
Menings
johan viljoen
Gelykheid op alle terreine, ook in sport, is ‘n ideaal waarna ons deurlopend moet streef.
Dit maak ‘n mens warm onder die kraag as enige wanbalans tot vandag toe nog effektief gedryf word en in selfs skole bly voortduur.
Vergeet van sport teenoor akademie.
Die verhef van een sport bo ‘n ander, pla al lankal.
Vir sommige is dit in skole net rugby rugby rugby en dit is, gegewe die uitsluitende aard daarvan, verkeerd en behoort dié ongelykheid reggestel te word.
Dit is egter onomwonde ook so dat rugby op verskillende vlakke oor dekades ook al ‘n geweldige groot bydrae gemaak het en doen dit eintlik vandag straks nog meer as ooit.
Vir talle is dit iets om Saterdag na Saterdag as toeskouer en lojale ondersteuner na uit te sien. Vir ander is dit ‘n onblusbare passie om te speel.
Rugby het lankal baie meer as net ‘n sport geword.
Dit bind gemeenskappe saam.
Dit hou mense weg van goed wat ons gemeenskappe bedreig.
Dit hou kinders van die straat af.
Dit skep rolmodelle waarna kinders opsien en dit skep hoop en ambisie.
Op die platteland hier in die Swartland en groter Boland is rugby veral besonder groot.
In die laaste jare het dit net nog groter geraak. Duisende toeskouers stroom na die velde.
Wonderlik dat klubrugby ook nou tot diep in die somer gespeel kan word, eintlik maar net omdat dit vir die gemeenskappe oor ‘n langer seisoen soveel beteken.
Ja, daar is ook ongelykhede. Sommige klubs is net soveel meer vermoënd as ander en sal dit fantasties wees om die speelveld meer gelyk te kry, maar dit is seker in die ideale wêreld.
Ondersteuners langs die veld is passievol en dit is hoe dit hoort. Vroeg in die wedstryd is hul entoesiasties en as hulle span goed vaar, ken die vreugde geen perke nie.
As die span opdraand kry, is dit ‘n bietjie anders.
Dan is die skeidsregter onmiddellik onder skoot – blind of onfiks of skelm of gebruinkoevert.
Maar dit is als deel van die dinamika en toon juis die diepgewortelde lojaliteit. Daardie behoefte aan en keuse om te behoort.
Skeidsregters kom altyd maar tot op die hoogste vlak onder skoot. Menslik en nie foutloos nie. Dit is ‘n gegewe.
Ná jare langs ‘n sportveld is daar soms vreemde beslissings en dan wonder ‘n mens onwillekeurig, maar dit is die spel.
Sosiale media en stroming van wedstryde het eintlik ‘n stuk van die amateurspel kom doodmaak. Nou kan jy elke fout van die blaser oor en oor bekyk en kritiseer. En sjoe, is daar nou venyn in kommentaar.
Met dit als gesê is en bly die eierbalspel een van die heel grootste bydraers van hoop en mag dit van krag tot krag gaan.
