LatestSports

Lillies verloor in doodsnikke; Koringboere val verder vas

Die kanse lyk nou maar skraal dat enige van die Swartland se twee verteenwoordigers verder as die groepfase in Boland Rugby se Top 12-kompetisie sal vorder.
Daar is nog twee rondes oor.
Wesbank, die Swartland se kampioen, het Saterdag op Botrivier teen dié Overbergkampioen vasgeval en so sy tweede loesing uit drie kragmetings op die lyf geloop.
Die eindtelling was 37-14 nadat Botrivier met rustyd reeds 17-7 voor was.
Die Koringboere is nou vyfde op die punteleer (7 punte) in Groep A met Roses United (tans eerste op 15 punte) en Botrivier (tans tweede op 11 punte) aan die voorpunt.

Abbotsdale, die Swartland se naaswenners vanjaar, het op hul beurt na Wellington gereis om op Pelikaanpark teen Hillcrest United mee te ding.
In dié kragmeting was die uitslag ná ‘n drie in die doodsnikke deur die besoekers toe op ‘n mespunt. Indien die bal met die doelskoel deur die pale sou seil, sou Lillies met ‘n enkele punt wen. Maar die skop was nie suksesvol nie en Lillies het met ‘n enkele punt die knie gebuig – 33-32
Abbotsdale het rustyd met 1 punt (20-19) voorgeloop ná hul vierde drie knap voor rustyd.
Die kragmeting was ‘n drieëfees met nie minder nie as 11 drieë – 5 aan die kant van Hillcrest en ses deur Lillies.
Abbotsdale kon nog nie vanjaar ‘n Top 12-wedstryd wen nie en is tans vyfde op die punteleer in Groep B met 5 ligapunte.
Die voorlopers is Robertson en Saldanha met elkeen 15 ligapunte.

In die oorblywende twee rondes speel Wesbank komende Saterdag om 17:00 tuis teen die span van Villagers Worcester en die week daarop om 15:00 weer tuis – dié keer teen Roses United. Komende Saterdag se kragmeting word voorafgegaan deur ‘n voorwedstryd tussen die Boland Kavaliers en Namibia.
Abbotsdale kom op hul beurt Saterdag om 17:00 in ‘n wegwedstryd teen die BreëLangeberg-kampioen, Robertson, te staan en aanstaande Saterdag om 15:00 tuis teen die besoekers van Safcol United.

Leave a Reply

error: Content is protected !!