Ons lewe in ‘n samelewing van boelies
Menings
johan viljoen
Dit begin klein-klein op skool.
Dit is nie net vuiste en fisies nie, maar ook emosioneel en finansieel.
Kinders baklei maar, maar afknouery moet sover moontlik met wortel en tak uitgeroei word.
Die onderliggende oorsaak is straks die gebrek aan respek. Dit behoort van kleins af by kinders aangekweek te word, maar ons samelewing faal monumentaal in hierdie aspek.
Oor jare al is oriëntering, inlywing, ontgroening, doop – noem dit wat jy wil, ‘n resep vir ‘n siek bestel – op skool en by naskoolse instansies.
Om nuwe lede te laat tuisvoel, te laat inskakel, deel te laat word, word daar op baie plekke geglo hulle moet eers verneder en afgebreek of fisies aangerand word. (cut to size).
Dit vind boonop op ‘n georganiseerde basis plaas. Eintlik georganiseerde boelie onder die dekmantel van inlywing.
Die slagoffers kry blywende letsels.
Dit hoort nie in ‘n vry en regverdige beskawing nie.
Nie op enige ouderdom nie. Jy leer kinders verkeerde waardes en dat die sterkeres en magtiges die minderes mag afdruk en dit word eenvoudig ‘n bose kringloop. Hulle glo dan hulle verdien om later self hierdie praktyke voort te sit.
Dan word hulle volwassenes en wil dit steeds bly doen.
Kyk maar na sakeboelies en ook amptenare in magsposisies wat burgers boelie.
Dikwels met onder meer met bedekte dreigemente soos: “Vat ons aan, maar onthou ons het diep sakke.”
Terug by skole.
In baie skole word sekere spelers/spanne tot helde verhef en op podiums geplaas waar hulle klaarblyklik die reg verdien het om neer te sien en af te knou.
Die siek goed wat gebeur waar spelers vir die eerste keer in top-spanne ingesluit word – en dit gebeur by meisies/vroue en seuns/mans – grens aan barbaars.
Dit kan nie goedgepraat word nie.
Die video van ‘n onaanvaarbare insident by ‘n Kaapse skool wat nou opslae maak, plaas maar net weer ‘n bietjie die vergrootglas op praktyke – soortgelyk en anders – wat op baie baie plekke plaasvind.
Dit gebeur eenvoudig te veel, maar word in die meeste gevalle uit die openbaar gehou.
Slagoffers word in baie van hierdie praktyke die stilswye opgelê en word selfs gedwing om ‘n eed van geheimhouding af te lê, as hulle die “eer” wil verdien om in daardie geledere ingelaat te word.
Dan is daar natuurlik ook organisasies waar mense aansluit (soms uit onkunde selfs, net om later te besef hulle is nou ingetrek). Alles word geheim gehou en die uitgelese ingelyfdes trek voordeel ten koste van ander burgers van die samelewing.
En so raak die grotes groter (en meer onaantasbaar) en die kleintjies doodge(s)moor.
