Latest

Konferensie skyn lig op mensehandel

Die Weskus Distriksmunisipaliteit (WDM) het in vennootskap met verskeie rolspelers ’n Mensehandelkonferensie met die tema “Globale Krisis, Plaaslike Aksie: ’n Gemeenskap Verenig teen Mensehandel” op Moorreesburg aangebied.
Die munisipaliteit sê in ‘n persverklaring die konferensie het kundiges op die gebied van sosiale welstand, wetstoepassing en gemeenskapsontwikkeling byeengebring om te bespreek hoe dié ernstige risiko doeltreffend binne gemeenskappe getakel kan word.

Regeringsamptenare, regsverteenwoordigers, gemeenskapsleiers en burgerlike organisasies het saamgestaan in die stryd teen een van die wêreld se dringendste menseregtekwessies.
Melonice Blanckenberg, bestuurder van maatskaplike en gemeenskapsontwikkeling by die WDM, het die belangrikheid van samewerking beklemtoon in die afbreek van mensehandelnetwerke. Sy het die noodsaaklikheid van eenheid, waaksaamheid en kollektiewe optrede uitgewys.
Mfundo Nomvungu, die Wes-Kaapse kommissaris van die kommissie vir geslagsgelykheid, het in sy boodskap klem gelê op die bemagtiging van vroue en die beskerming van kinders as noodsaaklike komponente in die bekamping van mensehandel.”

Van links: Melissa Visser (A21 SA), Kaylin Solomons (A21 SA), adv. Zelda Swanepoel (openbare vervolgings), Jaco Londt (Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling), Mfundo Nomvungu (kommissaris van die kommissie vir geslagsgelykheid), raadslid Monde Stemele en raadsdame Sandra Crafford (onderburgemeester van die WDM).

Raadsdame Sandra Crafford, onderburgemeester van die munisipaliteit, “het die munisipaliteit se verbintenis tot die stryd teen mensehandel só herbevestig: “Hierdie risiko in ons gemeenskappe kan slegs effektief aangespreek word deur gesamentlike pogings en ’n volgehoue vennootskap tussen die publiek en owerhede.”
In sy hoofrede het die Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Jaco Londt, ’n sterk beroep gehad van meer plaaslike aksie en samewerkingsinisiatiewe: “Tydens die 2024/2025 finansiële jaar het elf oorlewendes van mensehandel ondersteuning ontvang by skuilings wat deur die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling befonds word. Ons werk voortdurend saam met wetstoepassingsagentskappe om slagoffers te beskerm en psigososiale ondersteuning te bied, maar hierdie syfers is net die punt van die ysberg – baie slagoffers bly onsigbaar en ongehoor.
“Mensehandel floreer waar onkunde heers. Bewustheid is dus ons eerste verdedigingslinie. Geleenthede soos hierdie konferensie is van kardinale belang om dié misdaad te bekamp en meer lewens te red. Ek wil my waardering uitspreek teenoor die Weskus Distriksmunisipaliteit vir die skep van hierdie platform en vir die saambring van sleutelrolspelers in hierdie stryd.”

In ‘n aangrypende deel op die program het advokaat Zelda Swanepoel, adjunkdirekteur van openbare vervolgings, haar ervarings en lesse uit die Joslin Smit-saak gedeel. Dié saak het vroeër die land aangegryp en die verwoestende gevolge van mensehandel binne plaaslike gemeenskappe onderstreep.
As deel van die munisipaliteit se gemeenskaps- en landelike veiligheidsplan sal daar nou ’n distriksaksieplan ontwikkel word om bewustheid oor mensehandel te verhoog. Hierdie plan sal met relevante departemente gedeel word om insette en samewerking te verseker met die doel om die stryd teen mensehandel ’n verenigde, gemeenskapsgerigte poging te maak, aldus die verklaring.

Leave a Reply

error: Content is protected !!