CPM kry nuwe hoof ná 25 jaar
Die Christelike Privaatskool Malmesbury kry vir die eerste keer in sy 25 jaar ‘n nuwe skoolhoof.
Willie Taylor wat sedert die stigting van die skool die leisels gehou en reeds vir langer as dit al diep spore in die onderwys op Malmesbury getrap het, tree nou af.
Die voorsitter van die skool se beheerraad, Jannie de Bruyn, het die aanstelling van die nuwe hoof, Waldo Cloete, aan dié courant bevestig.

Cloete (50) was die afgelope bykans nege jaar aan die hoof van Laerskool Wesbank op Oudtshoorn. Hy was voor dit vir ‘n paar jaar adjunkhoof by Laerskool Brackenfell.
De Bruyn vertel Cloete was in Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch op skool en ook voorheen op die personeel van Klein Boishaai in die Paarl.
Cloete het in ‘n videoboodskap gesê hy is reeds 25 jaar in die onderwys en sien uit daarna om by die CPM-familie aan te sluit.
Sy vrou, Marina, ook ‘n onderwyser het ‘n pos in Durbanville aanvaar, luidens Laerskool Wesbank se Facebookblad.
