Agri/BusinessLatest

PPC RK3: Hulle weet presies wat ons weet – Winde

Die ultramoderne sementaanleg wat die Chinese maatskappy Sinoma tans teen ‘n koste van R3,1 miljard vir PPC buite Riebeek-Wes bou, sal na alle waarskynlikheid teen Maart 2027 met aanvanklike produksie begin.
Daarna sal die aanleg na verwagting teen die middel van 2027 aan PPC oorhandig word.
Die aanleg se jaarlikse produksie van 1 500 000 ton sement sal ‘n verdriedubbeling wees van die ou aanleg op dieselfde perseel wat onlangs uit produksie gestel is.

PPC het ‘n klompie gaste, waaronder die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, Swartland se burgemeester, raadsheer Harold Cleophas, ander raadslede, amptenare en sakevennote genooi vir ‘n inligtingsessie en om van ‘n uitkykpunt na die vordering van die enorme projek te kyk.
Daar is nou reeds meer as R2,2 miljard bestee.

Links bo: Die premier, Alan Winde, gesels met van die gaste. Regs bo: Werner Kieweg (PPC), Alwyn Zaayman (Swartland Munisipaliteit), raadsdame Desiree Bess en burgemeester, raadsheer Harold Cleophas. Links onder: Die rou materiaal word hier ingevoer en ander komponente word in die regte hoeveelhede bygevoeg. Regs onder: Kevin Woods (konstruksiebestuurder).

‘n Nuwe multistadium-voorverhittingstoring sal gebruik maak van ‘n gestapelde sikloonstelsel. Dié toring is by die 130m hoog en is reeds van baie ver op die horison sigbaar.
Die gemaalde roumeel sal hier voorverhit word tot omtrent 800 °C voor dit in die 60m-lange oond (kiln) verder verhit en gesmelt word (1 400 °C). Hierna sal dit vinnig afgekoel word om klinker te vorm waarna dit na die klinkerstorende silo gevoer sal word. Van hier sal dit dan tot sement gemaal en verpak word vir versending.
Die rou materiaal wat gemyn word, sal in hope in ‘n splinternuwe lang roumateriaal-stoor opgestapel word. Die stoor is 500m lank, 50m breed en in die middel 45 meter hoog. Die lang gebou het ‘n ronde groen dak.
Die lang stoor hou verskeie voordele in. Onder meer dat stof binne gehou word en die rou materiaal ook nie nat reën nie. Nat rou materiaal is in daardie vorm onbruikbaar en/of plaas ‘n verhoogde las op die grootliks geoutomatiseerde produksielyn en drogingsproses.

Van die lang stoor sal ‘n versnyding van materiaal tussen die verskeie grade wat opgestapel is dan na die produksielyn gevoer word. Daar sal ander byvoegings gedoen word, voor dit tot roumeel gemaal word.
PPC se hoof- uitvoerende beampte, Matias Cardarelli, het gesê die aanleg sal oor die mees gevorderde tegnologie beskik, met die laagste moontlike produksiekoste per ton en geoptimaliseerde brandstofverbruik – verbetering in energiedoeltreffendheid, verminderde steenkoolverbruik en laer emissies per ton sement wat geproduseer word.
Honderde konstruksiewerkers uit China woon tans op die terrein in tydelike akkommodasie. Daar is etlike kombuise waar maaltye met onder meer rys, groente en varkvleis vir hulle berei word.
Daar is ook werkers uit die plaaslike gemeenskap in diens geneem.

Links bo: Van die konstruksiewerkers. Regs bo: Die groot roumateriaal-stoor is 500m lank. Links onder: PPC se hoof- uitvoerendebeampte, Matias Cardarelli.

Die konstruksiebestuur van die projek, Kevin Woods, het gesê die Chinese werkers sal, met die uitsondering van ‘n paar, almal weer vertrek wanneer konstruksie afgehandel is.
Wanneer die nuwe RK3-aanleg in produksie kom, sal die PPC-aanleg by De Hoek stelselmatig gesluit word met slegs onderhoudspersoneel wat daar sal oorbly.
Hy het gesê dit is tans nog onduidelik hoeveel van die meer as 150 personeellede na die nuwe aanleg by Riebeek-Wes sal skuif.
“Dit is in hierdie stadium ook nog nie duidelik presies hoeveel mense uiteindelik by die nuwe aanleg sal werk nie.”

‘n Vergelykende tabel met die produksie van die nuwe aanleg vergeleke met die vorige. k=1000

Oor die besluit om De Hoek toe te maak en die Riebeek-aanleg uit te bou, verduidelik Woods dat die grondstofreserwes by De Hoek uitgeput raak en daar nog net genoeg vir ‘n paar jaar is. Die kwaliteit van die grondstof daar is ook nie die beste nie.
Daarteenoor is die grondstof by die Riebeek-aanleg van ‘n veel beter gehalte en daar is reserwes vir nog ‘n geraamde 200 jaar.

Winde, het die nuwe produksiefasiliteit geloof omdat dit die “gom” sal vervaardig “wat die infrastruktuur van die streek vir die volgende 100 jaar bymekaarhou”.
Winde het vertel van groot ontwikkelings wat in die Wes-Kaap reeds aan die gang is en nog in die nabye toekoms van stapel gestuur gaan word.
“Hiervoor sal “tonne en tonne en tonne beton en sement nodig wees.
“PPC weet dus presies wat ons weet,” het hy gesê.

Heel bo: Een van die Riebeekvallei se jong staaldromorkeste het opgetree. Links onder: Tertius Simmers (middel) provinsiale LUR vir infrastruktuur, saam met raadslid André Koopman en raadsdame Desiree Bess. Regs onder: Die premier, Alan Winde, in gesprek met die Swartland se burgemeester, raadsheer Harold Cleophas, en Alwyn Zaayman, van die Swartland Munisipaliteit.

Winde het bygevoeg dat dit in lyn is met die provinsie se doelwit van “werksgeleenthede vir groei”.
Cardarelli het gesê PPC is al ‘n 100 jaar hier en gaan nog vir die volgende 100 jaar hier wees. Hy het die provinsie, die munisipaliteit en Eskom bedank vir die samewerking in die projek.
Tydens die voorlegging is gesê die gebruik van meer as 18% alternatiewe energie soos die brand van gekompakteerde buitebande in plaas van steenkool, sal ‘n groot verlaging in die aanleg se koolstofvoetspoor te weeg bring.
Werner Kieweg, senior projekbestuurder, het aan dié courant gesê hulle “gaan beslis ook weer die spoorlyn gebruik en sodoende die padverkeer in die vallei verminder.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!