Weskus slaggereed vir dié brandseisoen
(persverklaring) – Vroeë voorspellings dui daarop dat groot dele van die Wes-Kaap ’n warm en droë somerseisoen kan verwag. Hierdie toestande verhoog die risiko van veldbrande en plaas groter druk op brand- en reddingsdienste om betyds en doeltreffend op te tree.

In die feestyd van 2025 was personeel van die Weskus Distriksmunisipaliteit (WDM) se brand- en reddingsdienste hard aan die werk om brande in onder meer die Piket-bo-Berg-omgewing te bestry. Met die komende somerseisoen in sig, word daar opnuut gefokus op proaktiewe brandvoorkoming, paraatheid en samewerking met sleutelvennote.
Die Weskus is ’n uitgestrekte landboustreek, waar koringlande, sitrusboerderye, rooibosplantasies en wingerde ’n belangrike deel van die plaaslike ekonomie vorm. Die beskerming van hierdie landbougebiede, asook omliggende gemeenskappe en natuurlike hulpbronne, is daarom ’n belangrike prioriteit.

Een van die innoverende maniere waarop die munisipaliteit en privaatsektor saamwerk om brandrisiko’s te beperk, is deur ’n vennootskap tussen die WDM se brand- en reddingsdienste en Santam. Die vennootskap is daarop gemik om veldbrandreaksie te versterk deur mobiele brandbestrydingseenhede nader aan landbougebiede te posisioneer. Die inisiatief beoog om reaksietye te verkort, vroeë ingryping te verbeter en te voorkom dat veldbrande onbeheersd versprei. Dit dra by tot die beskerming van plase, werksgeleenthede, gemeenskappe en die natuurlike omgewing.
Brandweerhoof Bertus Senekal sê die strategiese plasing van brandbestrydingshulpbronne nader aan hoërisikogebiede versterk die vermoë om brande vroegtydig te beheer en te beperk, aansienlik.
Dennis Geldenhuys, Santam se sake-ontwikkelingsbestuurder vir die landbousektor, benadruk dat proaktiewe voorkoming en vroeë ingryping ’n belangrike rol speel in die beperking van brandskade en gepaardgaande versekeringseise.
Nog ’n manier hoe brandrisiko’s verminder word is deur brandpaaie in stand te hou. As deel van hierdie voorkomende benadering het die WDM se brand- en reddingsdienste onlangs, in samewerking met die Stad Kaapstad en ander owerhede, ’n beheerde brand langs gedeeltes van die R27-padreserwe tussen Ganzekraal en Grottobaai uitgevoer. Die beheerde brand het deel gevorm van proaktiewe brandbestuursmaatreëls om die risiko en moontlike verspreiding van veldbrande langs dié gedeelte van die R27 (Weskuspad), te verminder.

Senekal doen ’n beroep op vakansiegangers en besoekers aan die streek om gedurende die somer- en feestyd verantwoordelik met oop vure om te gaan en nooit ’n vuur sonder toesig te laat nie.
“Maak ook seker dat alle braaivure ten volle geblus en nat gegooi is voordat daar vertrek word. Een enkele vonk kan ’n veldbrand veroorsaak en skade ter waarde van miljoene rande aanrig. Ons doen ’n beroep op almal om waaksaam te wees en verantwoordelik op te tree.”

Die WDM het ook ‘n reusehupstoot tot sy brandbestrydingsvermoë ontvang met die amptelike oorhandiging van nuwe brandweerwaens en noodreaksietoerusting deur die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuursentrum. Tydens die oorhandiging het die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, gesê die nuwe hulpbronne sal brandbestryders se vermoë versterk om vinniger en meer doeltreffend op noodgevalle te reageer en sodoende lewens, eiendom, landbouhulpbronne en gemeenskappe regoor die Weskus te beskerm. “Ons brandbestryders is op die voorpunt wanneer rampe toeslaan. Deur in moderne toerusting te belê, verseker ons dat hulle oor die nodige hulpmiddels beskik om lewens te red en ons gemeenskappe te beskerm.”
Daar sal ook ’n brandverbod op beheerde brande geld vanaf 1 Desember 2026 tot 31 Maart 2027.
Die verskeie vennootskappe met plaaslike munisipaliteite, die Groter Sederberg-brandbeskermingsvereniging, grondeienaars, die privaatsektor en gemeenskappe beklemtoon die waarde van samewerking om ’n veiliger en meer volhoubare omgewing te verseker.
