Die prys van “vooruitgang” – Swartland is nie anders nie
Menings
johan viljoen
Dokter, as jy ‘n insnyding maak, doen dit asseblief net as jy weet jy sal die wond weer kan help genees.
Sielkundige, as jy ou koeie gaan uitgrawe en ou sere gaan oopmaak, doen dit asseblief net as jy weet dat jy dit ook weer sal kan toemaak.
Dit behoort ononderhandelbaar as jul verantwoordelikheid beskou te word.
Plaaslike owerheid, as jy ontwikkeling najaag en bevorder en die klimaat skep vir wat jy ekonomiese vooruitgang noem, doen dit asseblief net as jy ook die prys wat daarmee saamkom sal help vereffen of hokslaan.
In die wetenskap is daar iets soos elke aksie het ‘n teenreaksie.
Daar is selfs ‘n skool wat glo jy kan nie nuwe energie skep nie, jy kan dit net help omskakel, maar dit bestaan reeds.
Beteken dit dat as jy welvaart in sekere mense se sakke help sit, jy outomaties ander help verarm – of geleenthede help ontneem?
Dit is virseker nie so eenvoudig nie. Die pizza kan groter gemaak word, maar die verskoning dat enige ontwikkeling die hele gemeenskap baat met nuwe geleenthede, is ‘n halwe waarheid.
Dit is baie dikwels ‘n oneweredige verspreiding waar die gaping nie verklein word nie.
Vir jare al roem ons plaaslike owerheid in die Swartland en is hulle baie trots op hul rol om die N7 te laat opgradeer na ‘n wonderlike nuwe dubbele snelweg.
En al het ons amper vergeet van die ou N7 en nagmerrieritte in die mis, veral laat in die aand of vroeg in die oggend, is dit inderdaad nou ‘n veel beter en vinniger ervaring.
Die Kaap is net soveel “nader”, MAAR die nuwe pad het nuwe probleme vir ons gebring.
Of het dit?
Is daar deesdae meer misdaad in Malmesbury en omliggende gebiede as voor die nuwe N7 en kan ons ‘n deel daarvan voor die deur van die nuwe N7 lê?
As ons kan, het die rolspelers wat dit help gebeur het, ook genoeg gedoen om die prys wat ons betaal, hok te slaan? Of het hulle dit voorsien, opgeweeg en toe hul insette gelewer?
Op die gebied van ontwikkeling en infrastruktuurontwikkeling word daar baie maklik gesê jy kan dit nie keer nie. Dit is moontlik so, maar veral ‘n plaaslike owerheid kan immers ‘n beduidende rol speel in die spoed waarteen dit gebeur.
Om nou hier oor die motiewe te bespiegel en of dit oor die sogenaamde “bottomline” van meer belastings gaan, sal ‘n afdwaal van die punt wees.
Swartland, onlangs weer aangewys as beste munisipaliteit – gedeel met Saldanha (minder as 75% vir die assessering – vergeet ook vir ‘n oomblik van die kriteria), word al jare vir goeie regering bekroon. Weer gemeet aan bepaalde kriteria.
Uiteraard sal dié tipe bemarking (ook voortdurende selfbemarking deur die owerheid) die plek al meer gewild maak vir nuwe inwoners en ontwikkelaars.
Die vraag is natuurlik of dit almal baat en of dit nog bekostigbaar is vir ‘n groot deel van die gemeenskap en of die nuwe jonger garde (ook dié aan die sogenaamde “have”-kant) wat tot die eiendomsmark wil toetree, dit hoegenaamd kan bekostig.
Raak gapings nie net groter en die Swartland onbekostigbaar vir baie nie?
Is snelle, amper onnatuurlike, “vooruitgang” altyd ‘n goeie ding?
Voorts het ‘n winkelsentrum buite ‘n dorpskern die dorpskern nog ALTYD seergemaak.
Malmesbury is nie anders nie.
Intussen word daar bv. ‘n nuwe aansluitingsverbypad om Malmesbury gebou. Hier is die provinsie weer aan die selfbemark oor die wonderlike goed wat hulle vir die streek se ekonomie beteken met die projek van R640m.
‘n Verbypad het dorpe nog altyd seergemaak. Sommige kleintjies selfs in spookdorpe laat verval.
Vraag is. Is Malmesbury anders? Hoe gaan dit besighede in Malmesbury raak, of moet hulle die prys vir die groter ekonomie betaal – half verarm word vir die groter prentjie; ander se sak(k)e?
